Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 22 Mei 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig Suid-Afrika se afvaardiging na die VSA, onder leiding van president Cyril Ramaphosa, het ‘n verenigde front gebied tydens ‘n warm gesprek met die Amerikaanse president Donald Trump, wat die Suid-Afrikaners herhaaldelik in ‘n lokval probeer lei het met ongegronde bewerings oor ‘n wit volksmoord in die land.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig ook oor die Withuis-vergadering. Die webblad skryf politieke ontleders soos Ntsikelelo Breakfast en Theo Venter is dit eens dat Ramaphosa die aanval teen die Suid-Afrikaanse afvaardiging ontlont het. Venter sê na aanleiding van die “Kill the Boer”-video wat vertoon is sal die regering nou moet oorweeg om stappe te doen teen Julius Malema.
En tweedens skryf die blad oor sneeu in Clarens en Golden Gate in die Oos-Vrystaat.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Berig Trump het na bewering tydens die Withuis-gesprek vir Ramaphosa gesê hy moet Julius Malema in hegtenis neem.
En skryf politieke partye in die regering van nasionale eenheid het begroting 3.0 verwelkom en gesê dit is ten gunste van armes, terwyl die opposisie dit as oppervlakkig en uit voeling met die land se ekonomiese werklikhede verwerp het.
# Sowetan:
Lei met: “CALM CYRIL SURVIVES TRUMP’S AMBUSH”. Die koerant berig Ramaphosa en sy swaargewig-afvaardiging kon daarin slaag om Trump se aanslag af te weer.
# En The Citizen:
Skryf Ramaphosa se span het belangrike steun verskaf teen Trump se aanslag van vals nuus.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei met dieselfde hoofberig as Netwerk24 oor Ramaphosa en sy afvaardiging wat Trump se lokval getroef het.
En tweedens skryf die koerant oor die afsterwe van die juwelier en filantroop, Jenna Clifford op 64-jarige ouderdom.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig ook oor die Trump-vergadering en die video van Malema wat tydens die gesprek vertoon is.
En tweedens skryf die koerant weens herhaalde mislukkings deur amptenare van Nelson Mandelabaai om bande vir vullisvragmotors te bestel, is die voertuie nou in depots gestrand en moes die stad miljoene rand bestee aan die huur van ander voertuie.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf Donald Trump en Suid-Afrika het die spreekwoordelike vredespyp gerook.
En berig begroting 3.0 is uiteindelik goedgekeur.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die San-gemeenskappe van Epikuro in die Omahekestreek het glo vir meer as twee maande nie voedselhulp ontvang nie.
En tweedens skryf die koerant die vrou wie se liggaam gister in Windhoek gevind is, het volgens getuies die naam van haar aanvaller uitgeroep voordat sy dood is.