Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 21 Mei 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die markte het vertroue getoon in Sasol-aandele en die waarde het in ‘n stadium met tot 10-persent gestyg. Die koerant skryf die bestuurshoof, Simon Baloyi het ‘n korporatiewe herstelplan onthul wat gekenmerk word deur aggressiewe skuldvermindering en ‘n verminderde begroting vir emissiereduksie.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die miljardêr Johann Rupert sê die Suid-Afrikaanse gholfspeler, Ernie Els het die vergadering tussen presidente Cyril Ramaphosa en Donald Trump deurgehaak. Volgens Rupert speel hy en Els reeds lank gholf saam met Trump.
Dan skryf die webblad die Amerikaanse minister van Buitelanfse Sake, Marco Rubio moes aan die Amerikaanse senaat verduidelik hoekom Afrikaners vlugtelingstatus ontvang het.
En laastens word berig terwyl Ramaphosa positief is oor die voorgenome gesprek waarsku kenners dat daar ‘n taai stryd voorlê.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Berig Ramaphosa se besoek aan die Verenigde State het volgens die koerant ‘n politieke storm in Suid-Afrika veroorsaak, met kritici wat hom daarvan beskuldig dat hy nasionale soewereiniteit in die gedrang bring onder druk van Trump en die tegnologie-miljardêr Elon Musk.
# Sowetan:
Berig Johannesburg het in 2000 reeds die Diepsloot-hostel verkoop, maar veg reeds die afgelope 17-jaar om die eienaarskap van die eiendom terug te kry.
# En The Citizen:
Lei met die eenvoudige hoofopskrif: “CYRIL V TRUMP”. Die koerant publiseer ‘n gedetailleerde uiteensetting van hoe die vergadering sal verloop.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig Ramaphosa is vol vertroue oor sy ontmoeting met Trump. Hy sê die vergadering se enigste doel is om die betrekkinge tussen Suid-Afrika en die VSA te herstel.
En tweedens skryf die koerant oor twee kindervriende, Klasie Mouton en Piêrrie de Klerk wat as kinders in Vanwyksvlei in die Noord-Kaap grootgeword het en mekaar nou vir die eerste keer na 52 jaar weer ontmoet het.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die beskuldigde Rob Evans het in die Vanessa van Rensburg-moordsaak getuig hulle verhouding het in konflik en alkoholmisbruik ontaard.
En tweedens skryf die koerant 42 olifante is in die Addo-park hervestig, om nuwe lewe in die landskap te blaas en die verspreiding van die diere te verbeter.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Berig die tegnologiediewe het weer toegeslaan by skole in Pietermaritzburg.
En skryf bouwerk aan Pietermaritzburg se AquaPark in die Xhawula-gebied vorder goed.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig daar bestaan kommer oor die Namibiese polisie se vermoë om reeksmoorde te ondersoek. Daar is sewe voorvalle wat in 2005 doodgeloop het en daar was nog geen vordering in die ondersoek na die onlangse moord op drie meisies van Okahandja nie.
En tweedens skryf die koerant die ministerie van Gesondheid en Maatskaplike Dienste het enige nalatigheid ontken in die dood van ’n psigiatriese pasiënt, die 16-jarige Karel Ndakolo, in die Oshakati-staatshospitaal in November.