Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 14 Mei 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig president Cyril Ramaphosa en president Donald Trump se diplomatieke vergadering volgende week sal na verwagting die weg baan vir ‘n reeks bilaterale handelsooreenkomste in verskeie sektore saamgestel deur ‘n ministeriële span van drie lede. Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, en die minister van Landbou, John Steenhuisen sal die handelspakketooreenkoms opstel wat daarop gemik is om verhoudinge te herstel.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die Episkopaalse Kerk in die VSA weier om die Afrikaner-vlugtelinge in die land te help hervestig. Die kerk voer aan hulle het noue bande met die Anglikaanse Kerk in Suid-Afrika en het ‘n onwrikbare verbintenis tot rassegeregtigheid.
Dan het die webblad met een van die vlugtelinge, Thea van Straaten van Van Reenen gepraat. Sy sê hulle het reeds vier plaasaanvalle oorleef en dis die rede hoekom sy die land verlaat het.
En laastens word berig die ANC sê die 49 Afrikaners wat die land verlaat het, misbruik vlugtelingstatus en hul enigste doel is om die demokrasie te ondergrawe.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Berig regeringsbronne dui daarop dat ‘n bykomende 300 Afrikaners na die Verenigde State sal emigreer. Die uitvoerende hoof van AfriForum, Kallie Kriel, wat steeds volhou dat die Afrikaners wat reeds vertrek het, goeie redes het, sê hy is egter nie van plan is om Suid-Afrika te verlaat nie.
# Sowetan:
Berig die polisie is besig om die liggaam van ‘n transitorower te identifiseer wat homself opgeblaas het tydens ‘n rooftog. Volgens die koerant was daar ‘n daling in transitorooftogte, maar daar was reeds 76 vanjaar.
# En The Citizen:
Skryf die regering het sedert die begin van die boekjaar reeds 217-miljoen-rand uitbetaal vir die onteiening van grond. Die grootste deel is vir swart grondeienaars.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig president Ramaphosa het tydens ‘n besoek aan Nampo-oesdag in Bothaville gesê die Afrikaners wat Amerika toe gevlug het is lafaards. Hy sê Suid-Afrikaners staan vas en los hul eie probleme op.
Dan skryf die koerant byna 1,4-miljoen mense het op FlySafair se elf-rand-vlugaanbod gereageer.
En laastens is daar nuus oor ‘n buitelander wat in hegtenis geneem is nadat een-miljoen-rand kontant en verskeie bankkaarte in sy besit gevind is.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig meer as 80-duisend werkers in die Oos-Kaap het hul werk in die eerste drie maande van 2025 verloor. Die werkloosheidsyfer in die provinsie staan nou op 39,3-persent, ‘n styging van 2,7-persentasiepunte.
En tweedens skryf die koerant ‘n waarnemende regter van Gqeberha en vooraanstaande prokureur, Siphokazi Cubungu het vir bedrog in die hof verskyn. Hy het na bewering handtekeninge vervals, vals fakture ingedien en betalings ontvang vir werk wat nooit gedoen is nie.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf eerstens Suid-Afrika het byna 300-duisend werksgeleenthede verloor in die eerste drie maande van 2025.
En berig daar is geen veranderinge aangebring aan KwaZulu-Natal se begroting nie.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die minister van Landbou, Visserye, Water en Grondhervorming, Inge Zaamwani-Kamwi sê haar ministerie het ’n telkaartstelsel ingestel om die prestasie van die visbedryf te meet.
Tweedens skryf die koerant die Namibiese polisie het vier-duisend-405 voorvalle van geslagsgeweld tussen April 2024 en Februarie 2025 aangeteken.
En laastens is daar nuus oor die Bruilof Ekspo wat in Junie in Rehoboth gehou gaan word en waar die wenpaartjie van Republikein se gewilde Bruidspaar van die Jaar-kompetisie ook aangekondig gaan word.