Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 09 Mei 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig Transnet het ‘n konsessiekontrak van 17-miljard-rand aan vyf privaat sektorvennote toegeken, insluitend ‘n Bidvest-konsortium, om verskeie vloeibare grootmaatterminale by die Richardsbaai-hawe te befonds, te bou en te bedryf. Die koerant skryf die konstruksie sal na verwagting duisende werksgeleenthede skep.
# Mail & Guardian op Vrydae:
Het die week ‘n spesiale vroue-uitgawe om Moedersdag te herdenk. Die koerant skryf dis vir al die moeders, tannies en dogters vir hul bydrae tot die ekonomie, en hul aansienlike bydrae tot moederskap.
# En die Netwerk24-webblad:
Lei met die moordsaak teen Robin en Kirsten Clark na die dood van hul 19 maande oue dogtertjie Krisley in 2013. Daar is gister in die Hooggeregshof in Gqeberha aangevoer dat mediese hulp doelbewus weerhou is.
Tweedens berig die webblad oor die verkiesing van die 69-jarige Robert Prevost as die nuwe Pous Leo die veertiende.
En laastens is daar nuus oor die Freitag-moordsaak waar die hof ‘n verweefde verhaal van dwelms en seks moes aanhoor toe een van die beskuldigdes, Rudie Lubbe getuig het.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Berig die liggame van die vermiste joernalis, Sibusiso Ndlovu en sy vriendin Zodwa Mdhluli is in ‘n veld in die Kwa Mhlanga-gebied gevind.
En tweedens skryf die koerant die EFF-leier Julius Malema is nie van plan om sy visumaansoek om Brittanje te besoek terug te trek nie.
# Sowetan:
Staan sy hele voorblad af aan die Nedbankbeker-eindstryd tussen Kaizer Chiefs en Orlando Pirates in Durban môre.
# En The Citizen:
Skryf kenners is van mening nie eens al die planne wat die Johannesburgse burgemeester, Dada Morero beraam om die stad te red nie, kan sy pos beskerm nie.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die Studenteraadsbestuurder vir Sport van die Universiteit Stellenbosch, Maqhawe Sithole het in die hof verskyn nadat hy na bewering ‘n jong vrou in ‘n universiteitskoshuis aangerand het.
En tweedens skryf die koerant daar is waarskuwings vir hoë deinings en sterk wind in die Wes-Kaap uitgereik.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig byna ‘n jaar nadat die eerste vrae gevra is oor die veiligheid van die water in die tenkwaens wat uitgekontrakteer word, kan amptenare van Nelson Mandelabaai steeds nie waarborge gee nie.
En tweedens skryf die koerant ‘n polisievrou van Kabegapark het in die hof verskyn nadat die polisie se Geld-vir-Moord-taakspan haar in hegtenis geneem het in verband met 16 aanklagte van bedrog.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf twee sekerheidswagte van Fidelity Guards het ongedeerd ontsnap tydens ‘n transitorooftog op die N3 in Mkondeni.
En tweedens word berig oor die diefstal van rekenaars by ‘n plaaslike skool.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die minister van Gesondheid en Maatskaplike Dienste, Nikanor Nangolo sê haar ministerie werk tans teen net 50-persent van sy vereiste personeelkapasiteit, ’n toedrag van sake wat sy as baie gevaarlik bestempel.
En tweedens skryf die koerant die 235-miljoen-rand wat begroot is vir die bou van 13 sportstadions, is ‘n druppel teenoor die twee-miljard-rand wat die opknap van die Onafhanklikheidstadion gaan kos.