Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 08 Mei 2025:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig die nasionale begroting, wat later die maand deur die minister van Finansies, Enoch Godongwana, voorgelê sal word, sal waarskynlik planne deur die Tesourie insluit om fiskale instrumente en waarborgraamwerke vir die tweede fase van Operasie Vulindlela te versterk. Die koerant skryf die nuwe hervormingsgebiede wat geskep is sluit in die versterking van plaaslike regeringsdienslewering en die benutting van die digitale openbare infrastruktuur.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig president Cyril Ramaphosa sê een van die vernaamste doelwitte van die tweede fase van Operasie Vulindlela is om van ruimtelike apartheid ontslae te raak. Hy het verwys na die struktuur van stede wat dit moeilik maak vir mense om te werk.

Tweedens skryf die webblad oor die sogenaamde Stellenbosse urineersaak. Theuns du Toit wat teregstaan op aanklagte van crimen injuria en opsetlike saakbeskadiging het in die hof gesê hy het reeds die slagoffer, Babalo Ndwayana om verskoning gevra.

En laastens word berig vyf verdagtes is reeds aangekeer in verband met die verdwyning van die joernalis Sibusiso Ndlovu en sy vriendin Zodwa Mdhluli.

GAUTENG:

# The Star & Pretoria News:

Berig oor die Johannesburgse burgemeester, Dada Morero se stadsrede gister. Hy het gesê moeilike tye vereis drastiese stappe om die stad se ekonomie om te keer.

En tweedens skryf die koerant die ANC se ontmoeting met Afrikaner-groepe is nie deur alle lede van die party verwelkom nie. Sommige lede voel AfriForum het verraad gepleeg teenoor Suid-Afrika.

# Sowetan:

Berig sokkerondersteuners sê niks gaan hulle weerhou om die Nedbank-bekereindstryd by die Moses Mabhida-stadion in Durban te gaan kyk nie. Hulle sê hulle is op pad Durban toe sonder kaartjies.

# En The Citizen:

Skryf oor navorsing wat gedoen is oor die haglike toestand van Suid-Afrikaanse werkers se geestestoestand. Die meeste ly aan stres, angs en depressie.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Bring eerstens hulde aan Afrikaans se honderd jaar as amptelike taal.

Tweedens word berig oor die samesprekings tussen Afrikaner-groepe en die ANC. Die partye wat AfriForum en Solidariteit ingesluit het, sê die gesprek was openhartig.

Dan skryf die koerant die Bloemendal-wynlandgoed in Durbanville gaan opgeveil word en sal waarskynlik 250-miljoen-rand haal.

En laastens is daar nuus oor Simba se tamatiesousskyfies. Dis terug maar die keer met Wellington se tamatiesous.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig ten spyte van ‘n dreigende hofaansoek oor die herstelwerk van 89-miljoen-rand aan die Matanzima-brug, gaan die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit voort.

En tweedens bring die koerant hulde aan die honderdjarige bestaan van Afrikaanse – met ‘n Afrikaanse plakkaat op straat.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf die premier van KwaZulu-Natal, Thami Ntuli het begin om sy belangrikste uitdagings aan te spreek,

En berig tweedens oor Indië se aanval op Pakistan.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig parlementslede het geëis dat DNS-toetse verpligtend  word om vaderskapsbedrog te bekamp.

Tweedens skryf die koerant die twee beskuldigdes in die Riedel-moorde is skuldig bevind en nóg drie verdagtes het gister in die Landdroshof in Keetmanshoop verskyn in verband met die Namdia-diamantrooftog.

En laastens huldig die koerant die belangrike rol van Afrikaans in Namibië.