Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 07 Mei 2025:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig Moody’s het Suid-Afrika se BBP-groeiprojeksie vir 2025 tot 1,5-persent verlaag. Dit is ‘n afgradering van 0,2-persentasiepunte van sy Februarie-projeksie. In sy jongste globale vooruitsig verwag die graderingsagentskap dat die wêreldekonomie met 1,9-persent in 2025 en 2,3-persent in 2026 sal groei. Dis ‘n skerp verlaging op sy vorige voorspelling.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig die DA het in die Hooggeregshof in Pretoria aangevoer die Wysigingswetsontwerp op Billike Indiensneming gee die minister van Werkskepping en Arbeid carte blanche om na willekeur rasteikens vir ondernemings met meer as 50 lede vas te stel.

Dan skryf die webblad ‘n dringende aansoek is in die Hooggeregshof in Kaapstad ingedien om die ouers van die stigter van Kleuterzone, Anthonie Bougas onder voorlopige sekwestrasie te plaas.

En laastens is daar nuus oor Suid-Afrika se motor van die jaar. Dis die plaaslik geboude BMW X3.

GAUTENG:

# The Star & Pretoria News:

Berig die voormalige Prasa-bestuurshoof, Lucky Montana het die Suid-Afrikaanse Inkomstediens se aansoek om op sy bates beslag te lê, betwis en beweer die belastingeis teen hom is ongegrond en polities gemotiveerd. Die dispuut spruit uit ‘n belastingaanslag van 46-miljoen-rand wat die Inkomstediens van Montana wil verhaal.

# Sowetan:

Berig die wapen wat gebruik was om die vyfjarige Dithebogo Phalane van Soshanguve dood te skiet, toe sy pa se bakkie verlede jaar in Mei gekaap is, is vroeër van ‘n polisiebeampte gesteel toe hy in ‘n lokval gelei is om beeste te koop.

# En The Citizen:

Skryf die ouers van die 20-jarige Vilano Saunders van die Noordwes-universiteit wat dood is na ‘n rugbybesering sê hulle gaan die universiteit se afrigters verantwoordelik hou omdat Saunders nie afgerig is om in die voorry te speel nie.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Lei met die dringende aansoek om Bougas se ouers voorlopig te sekwestreer.

Dan word berig die DA sê die uitspraak van die Konstitusionele Hof wat die regte van Suid-Afrikaners met dubbele burgerskap beskerm is ‘n oorwinning vir alle Suid-Afrikaners met ‘n tweede nasionaliteit.

En laastens is daar nuus oor ‘n pensioenaris van Grassy Park wat 13-miljoen-rand met ‘n Lotto Plus-kaartjie gewen het.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig duisende kinders in Nelson Mandelabaai ly honger as gevolg van ‘n vertraging in befondsing vir die skoolvoedingsprogram.

En tweedens skryf die koerant die inwoners van Bethelsdorp het sekuriteitsgroepe gevorm om munisipale tegnici van Nelson Mandelabaai te begelei wat probeer om straatligte reg te maak.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf die munisipale skuldinvorderingsprogram in eThekwini word bespoedig.

En berig tweedens oor die geestlike ondersteuning wat aan onderwysers verleen word.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig die Namibiese Owerheid vir Sake- en Intellektuele Eiendom sal die maand begin om maatskappye te deregistreer wat versuim het om aan die statutêre vereistes te voldoen.

En tweedens skryf die koerant die Namibiese Direktoraat van Vliegtuigondersoeke gaan die enjins van die Cessna F406 wat verlede jaar in Pionierspark neergestort het Kanada toe stuur vir verdere ontleding. Al drie die persone aan boord het in die ongeluk omgekom.