Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 06 Mei 2025:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig Eskom het die elektrisiteitsverspreiding by verskeie plaaslike regeringsrade in drie provinsies oorgeneem om sy inkomste te verseker. Die koerant skryf vakbonde sien die stap egter as ‘n poging om plaaslike regering te verswak.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie het aan G20-afgevaardigdes gesê daar is geen sprake van volksmoord in Suid-Afrika nie.

Dan skryf die webblad die oorstromings in die Benede-Oranjerivierstreek het nou dieselfde vlakke as in 2011 bereik. Verskeie landerye en vakansie-oorde teen die rivier is onder water.

En laastens is daar nuus oor die 27-jarige Brandon Pretorius wat om sy lewe veg in die hospitaal nadat hy buite die Malboer-klub in Boksburg aangerand is.

GAUTENG:

# The Star & Pretoria News:

Skryf daar is na bewering gesprekke in die ANC om die miljardêr-sakeman Patrice Motsepe as ‘n toekomstige president van Suid-Afrika te posisioneer. Die koerant berig dis nie amptelik bevestig nie maar sekere lede wil Motsepe glo by die 2027 verkiesingskonferensie voorstel.

# Sowetan:

Berig van die Gautengse Onderwysdepartement se plan om ‘n laerskool in Diepsloot te bou het niks gekom nie en 285 leerders sit nou sonder ‘n heenkome.

# En The Citizen:

Skryf president Donald Trump se planne om buitelandse inhoud in Amerikaanse rolprente te belas kan ernstige gevolge inhou vir die Suid-Afrikaanse bedryf aangesien sekere groot Hollywood-rolprente plaaslik verfilm word en werk bied aan honderde tegnici.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Berig eerstens oor die DA se uitdaging van die Wysigingswet op Gelyke Indiensneming in die Hooggeregshof in Pretoria. Die voorsitter van die party se federale raad, Helen Zille sê die wet verskans raskwotas en is ongrondwetlik.

En tweedens skyf die koerant die Kaapstadse burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith gaan die polisie dagvaar nadat daar in Januarie ‘n klopjag op sy kantoor uitgevoer is.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig die leerders en personeel van ‘n bekende skool in Gqeberha is in rou nadat ‘n ma en dogter in hul huis doodgeskiet is. Die dogter was ‘n belowende netbalspeler by die skool.

En tweedens skryf die koerant ‘n geroeste transmissietoring is weer eens die oorsaak van wydverspreide kragonderbrekings in Nelson Mandelabaai.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf daar is skole in KwaZulu-Natal waar wiskunde glad nie aangebied word nie.

En berig ook oor die DA se hofstryd teen die Gelyke Indiensnemingswet.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig Namibiese kleinsake-ondernemings betrokke by invoere deur die Ariamsvlei-grenspos, gaan na bewering gebuk onder vertragings as gevolg van klaringsprosesse deur die Namibiese Inkomste-agentskap.

En tweedens skryf die koerant die land rou oor die singende sendingpaartjie, Eddie en Linda van der Merwe wat in ‘n motorongeluk omgekom het.