Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 05 Mei 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Konstitusionele Hof sal môre Saccawu se saak teen Massmart Holdings oor die afdanking van 600 werkers aanhoor nadat die vakbond se appèl teen ‘n Arbeidshof-uitspraak in 2024 van die hand gewys is.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die Gautengse premier, Panyaza Lesufi sê hoewel die ANC met die DA saamwerk in die regering van nasionale eenheid bly die party steeds die ANC se vyand. Lesufi het by ‘n lekgotla gesê hy kan nie saamstem met die ANC se besluit om met die DA saam te werk nie.
Tweedens skryf die webblad die afgetrede generaal-majoor Gert Opperman sê daar is te veel uitdagings om te verwag dat die Suid-Afrikaansie Nasionale Weermag oornag reggeruk sal kan word.
En laastens word berig die Katolieke Kerk is omgekrap oor president Donald Trump se kunsmatige intelligensie-afbeelding as pous. Trump het die afbeelding self geplaas.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Berig die Lughawe-maatskappy van Suid-Afrika worstel met ‘n volskaalse leierskapskrisis teen die agtergrond van ‘n beweerde toename in bewerings van kwalifikasiebedrog, nepotisme, finansiële wanbestuur en mislukkings in bestuur. Die koerant skryf dit gebeur onder die toesig van die uitvoerende hoof, Mpumi Mpofu en die sekerheidshoof, Mzwandile Petros.
# Sowetan:
Berig City Power bestee 100-miljoen-rand om sy werkers te beveilig teen aanvalle deur lede van die gemeenskap. Tegnici sê hulle verkeer daagliks in lewensgevaar.
# En The Citizen:
Skryf die druk in die ANC om die DA uit die regering van nasionale eenheid te verwyder groei steeds, veral in di lig van adjunkpresident Paul Mashatile se veldtog om van president Cyril Ramaphosa ontslae te raak. Kenners waarsku egter die ANC het in die verlede mag verloor deur sulke faksiegevegte.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die kabinetslede in die regering van nasionale eenheid het ná tien maande steeds geen prestasie-ooreenkomste onderteken nie. Die ministers het nog nie sulke ooreenkomste van president Ramaphosa ontvang nie.
En tweedens skryf die koerant die Stellenbosch-belangegroep gaan ‘n klag by die Openbare Beskermer indien oor die ontwikkeling by Botmaskop weens ‘n oortreding van die ontwikkelingsvoetspoor.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig teenstrydige regulasies oor brandstofinname op see deur die Suid-Afrikaanse Maritieme Veiligheidsowerheid kan kleiner operateurs uit die mark dwing.
En tweedens skryf die koerant ‘n ma van Bethelsdorp sê sy moes ure wag op mediese behandeling by die Dora Nginza-hospitaal wat daartoe gelei het dat haar baba stilgebore is.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die ANC-koukus is gekant teen die DA in die regering van nasionale eenheid.
En berig oor die ontrekking van Suid-Afrikaanse troepe uit die DRK.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Daar is vandag ongelukkig geen voorblad beskikbaar nie.