Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 02 Mei 2025:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig die Reserwebank is skerp gekritiseer deur die Hooggeregshof vir die misbruik van drakoniese valutabeheermagte. Die hof sê die bank het dit gedoen deur die intrekking van goedkeuring vir Ibex om fondse na buitelandse krediteure oor te dra.

# Mail & Guardian op Vrydae:

Skryf vandag oor vakbonde in die Suid-Afrikaanse konteks. Die koerant berig onder meer oor werkvermindering, kunsmatige intelligensie en lewenskoste gesien teen die agtergrond van arbeidsorganisasies se relevansie.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig oor ‘n plaasmoord in die Roossenekal-omgewing in Limpopo. Die liggaam van die 78-jarige Robert Stolz is deur sy dogter gevind. Hy is na bewering met ‘n skerp voorwerp doodgesteek.

Dan skryf die webblad intussen is die 72-jarige Schalk Augusteyn van Upington met ‘n sekel aangeval. Hy het ligte beserings opgedoen.

En laastens word berig die polisie sê daar is geen verband tussen die drie konstabels wie se liggame in die Hennopsrivier gevind is en nog twee liggame wat daar opgespoor is nie.

GAUTENG:

# The Star & Pretoria News:

Skryf president Cyril Ramaphosa het die stigting van ‘n kommissie van ondersoek aangekondig om ondersoek in te stel waarom misdade uit die apartheidsera, wat deur die Waarheids- en Versoeningskommissie verwys is, nie vervolg is nie.

En tweedens berig die koerant daar is nog talle vrae in die ondersoek na die dood van die drie polisiekonstabels in die Hennopsrivier.

# Sowetan:

Berig die 44 jong Ethiopiese mans wat uit ‘n huis in Sandton gered is, was ondervoed en het oop wonde gehad. Die koerant skryf die bure van die huis sê hulle is geskok, want hulle het gedink die huis staan leeg.

# En The Citizen:

Lei met: “BETTER LIFE OR BITTER LIFE”. Die koerant skryf die meeste werkers in die land is vasgevang in vakbonde wat namens hulle besluite neem.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Berig die uitspraak in die Joshlin Smith-saak word vandag gelewer. Die staat voer aan sy is vir 20-duisend-rand aan ‘n sangoma verkoop, maar die koerant skryf al is daar ‘n skuldigbevinding, Joshlin word steeds vermis.

Tweedens skryf die koerant drie kinders is dood in ‘n motorongeluk in Stanford.

En laastens is daar nuus oor 550-ton kosafval wat in Kaapstad in kompos verwerk is.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig die inwoners van Knysna het die week buite die hof betoog nadat die 36-jarige Ntombizodwa Mei wie se liggaam op Vryheidsdag gevind is, vermoor en in ‘n puttoilet afgegooi is.

En tweedens skryf die koerant die vader van ekotoerisme, Bill “Tick” Fowlds van Sidbury, is oorlede.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf oor Suid-Afrika se kernkragplanne.

En berig die MK-party het daarin geslaag om nog ‘n wyk in eThekwini te wen.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig die omstrede Meatco-raadslid, Joseph Andreas, het die Teenkorrupsiekommissie van Namibië in kennis gestel dat sy mederaadslede, insluitend die veteraan-sakeleier en raadsvoorsitter, Sakaria Nghikembua, na bewering nie oor die kwalifikasies beskik om op die maatskappy se raad te dien nie.

Tweedens skryf die koerant nog ‘n beweerde poging om ‘n skoolmeisie in Windhoek te ontvoer, word deur die Namibiese polisie ondersoek.

En laastens word berig die Lüderitz Kreeffeestrust en die dorpsraad stamp koppe.