Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 30 April 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Departement van Binnelandse Sake is besig om die land se immigrasieregime te hersien en sal na verwagting ‘n hersiene gids in die eerste kwartaal van 2026 aan die kabinet voorlê.
# En die Netwerk24-webblad:
Lei met die polisie se deurbraak in hul soektog na konstabels Linda Cebekhulu, Keamogetswe Buys en Boipelo Senoge wat vermis geraak het toe hulle van die Vrystaat na Limpopo onderweg was. Hul liggame is in die Hennopsrivier in Centurion opgespoor. Die koerant skryf hulle naasbestaandes het gister die toneel besoek.
Tweedens skryf die koerant die minister van Vervoer, Barbara Creecy sê die laer ongeluk- en padsterftesyfer die afgelope Paasnaweek dui op ‘n afwaartse neiging.
En laastens is daar nuus oor drie mense wat in ‘n Sweedse salon in die stad Uppsala doodgeskiet is. Die skieter het na die voorval met ‘n bromponie gevlug.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Lei ook met die liggame van die konstabels wat gevind is.
Tweedens skryf die koerant ten spyte van die koeler temperature en windstil toestande wat verligting gebring het aan die brand by Tokai, in Kaapstad, is brandweerspanne bekommerd dat die brand kan versprei.
En laastens word berig die Oos-Kaapse kunstenaar, Thembani Hastings Mqhayi het sy teleurstelling uitgespreek oor die regering se mislukking om sy geskil oor die ontwerp van die nasionale vlag op te los.
# Sowetan:
Berig ook oor die liggame van die drie konstabels wat gevind is. Die koerant skryf die sleutel om die saak op te los lê in die soektog na hul voertuig.
# En The Citizen:
Skryf ontleders is van mening dat die minister van Finansies, Enoch Godongwana, nie afgedank sal word nie, bloot omdat dit nie die werkswyse van die ANC is nie.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die man wat dood is toe hy ‘n roeier in Kalkbaai gered het, Keanon Dick, het voorheen ook ‘n persoon gered wat van die hawemuur afgespoel is.
Dan skryf die koerant die 85-jarige Gert Bruhns van Bloemfontein wat na bewering sy seun, die 56-jarige Erich, doodgeskiet het, is dood voordat hy in die hof kon verskyn.
Voorts word berig ‘n man van Mpumalanga is in hegtenis geneem toe hy sy pa en oupa wat in 2010 oorlede is se grafte oopgegrawe het.
En laastens is daar nuus oor die dronkste motorbestuurder wat oor die Paasnaweek in hegtenis geneem is. Die man van Tsolo in die Oos-Kaap was byna 10 keer oor die wettige vlak.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit is weer met ‘n regsgeding gedreig om die aanstelling van twee kontrakteurs vir die herstelwerk van 89-miljoen-rand aan die Matanzima-brug te laat hersien en tersyde te stel.
En tweedens skryf die koerant ‘n Britse man dagvaar die Sisters of Nazareth in Gqeberha. Hy beweer hy is as kind seksueel aangerand in die weeshuis.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf eerstens oor die skok en afgryse toe die liggame van die vermiste polisiekonstabels gevind is.
En tweedens berig die koerant nog ‘n taxibaas is doodgeskiet.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig sonder ’n omvattende wetlike raamwerk en sterk beleidsrigtings in die olie- en gasbedryf, loop Namibië die gevaar om sy vrede en sekuriteit te ondermyn.
Tweedens skryf die koerant vertragings op administratiewe vlak en agterstande by die Staatsdienskommissie is die rede waarom sommige skole in Zambezi nie ‘n hoof het nie.
En laastens word berig die grumoorde op drie jong meisies het Namibiërs regoor die land verenig in hartseer en die soeke na geregtigheid.