Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 24 April 2025:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig die Internasionale Monetêre Fonds het sy siening herhaal dat Suid-Afrika se skuldvlak nie sal bestendig soos die Nasionale Tesourie in opeenvolgende begrotings geprojekteer het nie. Die IMF sê dit sal teen 2030 tot 88-persent van BBP styg, tensy die regering strenger fiskale beleid instel.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig die regering gaan die BTW-saak wat deur die DA en EFF aanhangig gemaak is, buite die hof skik. Die regspan van die minister van Finansies, Enoch Godongwana het die DA se prokureurs genader en in ‘n verklaring gesê die BTW-verhoging word teruggetrek.

Dan skryf die webblad president Cyril Ramaphosa sal vandag die Oekraïnse staatshoof, Volodymyr Zelensky ontvang al het hy ‘n verkoue onder lede.

En laastens word berig die 85-jarige Gert Bruhns bly in aanhouding nadat hy na bewering sy seun, die 56-jarige Erich van Bainsvlei in Bloemfontein doodgeskiet het.

GAUTENG:

# The Star & Pretoria News:

Skryf ook oor Ramaphosa se vergadering met Zelensky. Bilaterale betrekkinge en uitbreiding van bilaterale samewerking, asook die verkenning van samewerking ter ondersteuning van pogings om blywende vrede te bou, sal op die agenda wees.

En tweedens word berig die Nasionale Vervolgingsgesag het ‘n senior advokaat aangestel om die moontlikheid te ondersoek om teen die Timothy Omotoso-uitspraak te appelleer.

# Sowetan:

Berig ook Godongwana is besig om die beoogde BTW-verhoging te skrap ná heftige samesprekings met die ander lede van die regering van nasionale eenheid. Kenners meen egter die besluit kan sy kabinetsposisie in gevaar stel.

# En The Citizen:

Skryf indien Suid-Afrika sy handelsbande met ‘n land soos Indië versterk, kan die tariewe wat deur die VSA ingestel is getroef word.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Lei met ‘n onderhoud met die omstrede diamanthandelaar, Louis Liebenberg oor die omstandighede van sy aanhouding en ander aangeleenthede oor die saak teen hom. Liebenberg sê hy word gemoker terwyl hy niks verkeerd gedoen het nie.

En tweedens word berig die Onafhanklike Verkiesingskommissie sê die plaaslike regeringsverkiesing kan volgende jaar tussen 2 November en 30 Januarie 2027 gehou word.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig die wettigheid van die aanstelling van Nelson Mandelabaai se waarnemende stadsbestuurder, Ted Pillay is op ‘n raadsvergadering deur opposisieraadslede bevraagteken. Die vergadering het agter geslote deure plaasgevind.

En tweedens skryf die koerant die polisie is op soek na die moordenaar van die 36-jarige Vanessa van Rensburg van Gqeberha. Haar liggaam is Paassondag by haar kêrel se Oesterbaai-vakansiehuis gevind.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf die slaggate en toestand van die paaie in Nkondeni in Pietermaritzburg het volgens die ondernemings in die gebied ‘n negatiewe uitwerking op sake.

En tweedens word berig KwaZulu-Natal berei voor op ‘n koue front.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig die onverwagte verkiesing van ‘n parlementslid van die Landless People’s Movement as die adjunkvoorsitter van die belangrike staande komitee oor Internasionale Betrekkinge, Verdediging en Sekuriteit dui op ernstige krake in die regerende party se eenheid.

Dan skryf die koerant die regeringswerkswinkel in Rundu, wat verantwoordelik is vir die instandhouding van voertuie in twee streke, het die afgelope tien maande meer as ‘n miljoen-rand aan onderdele bestee.

En laastens is daar nuus oor ‘n groep kinders van die San wat danksy die ondersteuning van weldoeners vir die eerste keer die see kon sien.