Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 23 April 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Internasionale Monetêre Fonds het sy groeivooruitsig vir Suid-Afrika en byna elke ander land verlaag in reaksie op die tariefaankondigings deur die VSA. Suid-Afrika se verwagte groeikoers is verlaag tot net een-persent vir vanjaar en 1,3-persent vir volgende jaar.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die beskuldigdes in die Jacques Freitag-moordsaak, Rudie Lubbe en Chantelle Oosthuizen, het die hof gevra om die staat te dwing om al die besonderhede in die moorddosier te openbaar.
Dan skryf die webblad die ANC het glo met die MK-party gepraat oor insluiting in die regering van nasionale eenheid, maar MK sê hy het die versoek van die hand gewys.
En laastens is daar nuus oor die 57-jarige pa van Jeffreysbaai wat op meer as 700 aanklagte wat verband hou met seksmisdade teen kinders, skuldig bevind is.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Skryf Sthembiso Mdlalose wat aangekla word dat hy die brand gestig het waarin 76 mense in Marshalltown in Johannesburg in 2023 omgekom het, het onskuldig gepleit.
En tweedens word berig die gekose komitee oor Sekuriteit en Justisie het sy kommer uitgespreek oor die 31-miljoen-rand wat aan geskorste landdroste se salarisse bestee is.
# Sowetan:
Berig die Gautengse premier, Panyaza Lesufi het ná die Tembisa-brand die Staatsveiligheidsagentskap versoek om die moontlikheid van vuilspel in hospitaalbrande te ondersoek.
# En The Citizen:
Skryf die DA sê die ANC gee nie om vir die armes nie en dit word bewys deur sy meedoënlose pogings om die BTW-verhoging deur te druk.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die miljarde rand wat vir onderwys in al nege provinsies bewillig is, is steeds nie genoeg nie. In KwaZulu-Natal is dit moontlik dat onderwysers nie die maand betaal gaan word nie.
Dan skryf die koerant parlementslede is omgekrap omdat die verslag oor die Wêreldbeker-netbaltoernooi wat in 2023 in Suid-Afrika aangebied is, steeds nie voltooi is nie.
En ten slotte is daar nuus oor die nuwe liefde tussen Billy Ray Cirus en Liz Hurley.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig nagenoeg ‘n miljoen-rand se motorfietse is die afgelope week by huise in Gqeberha gesteel. Die polisie en privaat sekerheidsmaatskappye het motorfietseienaars gewaarsku oor ‘n sindikaat wat bedrywig is.
En tweedens skryf die koerant die eienaars van eiendomme in Nelson Mandelabaai, wat steeds wag vir drie maande se onbetaalde huur van NSFAS, het gedreig om honderde studente uit te sit.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die Ithala-bankgroep soek ‘n reddingsboei van 300-miljoen-rand van die regering.
En berig plattelandse skole is in die lig van die jongste weerwaarskuwings van swaar reën gewaarsku teen oorstromings.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die aandeelhouers van Paladin, die eienaars van die Langer Heinrich-uraanmyn, dagvaar die maatskappy in ‘n Australiese hof oor ‘n laer as verwagte produksiesyfer die afgelope boekjaar.
En tweedens skryf die koerant die voormalige goewerneur van die Otjonzondjupastreek, James Uerikua is bekommerd oor die hoë plaaspryse wat aangevuur word deur buitelandse kopers.