Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 22 April 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die ekonomiese beleidmakers wat hierdie week in Washington vergader, gaan probeer om die wêreldwye handelstelsel te herlaai. Die besturende direkteur van die Internasionale Monetêre Fonds, Kristalina Georgieva sê hulle groeiprojeksies is afwaarts maar sy voorsien nie ‘n resessie nie.
# En die Netwerk24-webblad:
Het ‘n verskeidenheid berigte oor die afsterwe van pous Franciskus insluitend die wêreldwye hulde wat gebring word, president Cyril Ramaphosa wat sê die pous was ‘n brugbouer, die samedromming van mense in die Vatikaanstad en die verkiesingsproses van ‘n nuwe pous.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Skryf daar is interne verdeeldheid in die ANC oor Ramaphosa se oorweging om ‘n wit Afrikaner as die nuwe Suid-Afrikaanse ambassadeur in die VSA aan te stel. Die koerant berig volgens bronne binne die party word die stap gesien as ‘n poging om bande met die Amerikaanse president Donald Trump te herstel.
En berig tweedens die afsterwe van pous Franciskus bied geleentheid vir die Katolieke Kerk om te hervorm.
# Sowetan:
Berig dit kos 300-rand om Suid-Afrika onwettig binne te kom van Zimbabwe af. Die koerant skryf oor verskerpte optrede by die Beitbrug-grens wat tot die arrestasie van meer as ‘n duisend onwettige immigrante gelei het.
# En The Citizen:
Skryf nagenoeg 500 sake van prokureurs wat hul klante besteel het, is nog nie afgehandel nie. Die Prokureursorde van Suid-Afrika sê dit ondermyn die publiek se vertroue in die regsberoep.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Bring eerstens ook hulde aan die pous.
Dan word berig die 72-jarige Jack van der Spuy van Somerset-Wes is waarskynlik vermoor voordat sy huis aan die brand gesteek is. Twee verdagtes is in hegtenis geneem.
En laastens skryf die koerant oor die polisiehond Night wat gehelp het om ‘n inbreker in Gqeberha vas te trek al het hy ‘n gapende meswond aan sy nek gehad.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig toerisme-operateurs in Nelson Mandelabaai glo die metro is aan die slaap oor sy potensiaal om ‘n vakansiebestemming van keuse te wees. Dit is die derde agtereenvolgende jaar dat verblyfbesprekings afgeneem het.
En tweedens skryf die koerant die inwoners van Oesterbaai is ontsteld oor ‘n aansoek van Schoenmakers Mining om ‘n gedeelte van die ongerepte strand voor die dorp te myn.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die regering oorweeg om nie die BTW-verhoging in te stel nie.
En tweedens bring die koerant ook hulde aan die afgestorwe pous.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Namibiese Mededingingskommissie het nog uitstel aan Ultimate Safaris en drie bewaringsgebiede verleen na ‘n vergadering met die ministerie van die Omgewing, Bosbou en Toerisme.
En tweedens skryf die koerant vyf mense is die afgelope Paasnaweek op Namibiese paaie dood en meer as 24 beseer.