Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 11 April 2025:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig die Parlementêre Begrotingskantoor, ‘n onafhanklike liggaam wat gestig is om fiskale beleid te ontleed, het die Nasionale Tesourie se betoog vir die verhoging van BTW verwerp en gesê die departement is ongevoelig vir die land se groeiende ongelykheid.

# Mail & Guardian op Vrydae:

Skryf die begrotingsdooiepunt is nog lank nie opgelos nie en die gesprekke is nou gesetel in frustrasie en woede terwyl nie een van die partye toegewings wil maak nie.

En tweedens word berig oor die vrese wat bestaan in die sitrusuitvoerbedryf oor Donald Trump se tariewe.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig adjunkpresident Paul Mashatile sê die ANC-leierskap het besluit die regering van nasionale eenheid moet hersaamgestel word. Die ANC en DA ontmoet môre om die begrotingsdooiepunt te bespreek.

Dan skryf die webblad een van die jongboer-finaliste uit die Vrystaat, die 36-jarige Tienie Prinsloo, sê hy is nie van plan om na Amerika toe te vlug nie.

En laastens is daar nuus oor die vaskopstut van die Stormers, Neethling Fouché wat vir vier weke geskors is. Hy sal die laaste vier wedstryde van die Verenigde Rugbykampioenskapsreeks misloop.

GAUTENG:

# The Star & Pretoria News:

Skryf die EFF-LP, Carl Niehaus onthul witmonopoliekapitaal was saam met hul bondgenote binne die ANC verantwoordelik vir die sluipmoord op SAKP-leier Chris Hani in 1993.

En tweedens word berig Apple het na bewering 1,5-miljoen iPhones uit Indië na die VSA verskeep om Trump se tariewe vry te spring.

# Sowetan:

Berig die Padongelukkefonds is net elf dae gegun om eise van miljarde rand te betaal, maar ‘n DA-lid van die portefeuljekomitee oor Vervoer sê die fonds het nie geld om sy verpligtinge na te kom nie.

# En The Citizen:

Lei met: “DID WE DODGE TRUMP’S BULLET?” Die koerant skryf die vraag is nou of Pretoria bereid is om te onderhandel.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Berig oor die dubbele tragedie wat die Hoërskool Melkbosstrand getref het. Een van hul leerders Kenako Boikanyo is Vrydag aan onbekende oorsake oorlede en die skool se hoof, Danell Ross is Woensdag aan ‘n hartaanval oorlede.

En tweedens skryf die koerant die geregtelike ondersoek na die dood van Markus Jooste is na ‘n jaar steeds nie afgehandel nie.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit het dringende herstelkontrakte vir vloedskade ter waarde van 53-miljoen-rand gestaak nadat drie kontrakteurs gedreig het om die metro te dagvaar.

En tweedens skryf die koerant ’n Baaise polisiebeampte wat tydens ’n tugverhoor skuld beken het aan huisroof, die besit van gesteelde goedere en die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen, sal binnekort weer by die werk wees ná ’n skorsing van twee maande.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf die omstrede advokaat Dali Mpofu staan ​​tereg op sewe aanklagte, waaronder dat hy die regsberoep in oneer gebring het, mense se karakters aangetas het en sy plig by die hof versuim het. Hy sal later die maand voor die tugkomitee van die Regspraktykraad verskyn.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig Osino Resources en Shanjin International se reuse-goudmynontwikkeling by die Twin Hills-terrein gaan werksgeleenthede vir honderde bied.

En tweedens skryf die koerant drie vermeende perlemoensmokkelaars het Woensdag in die Karasburg-landdroshof verskyn nadat hulle glo perlemoen ter waarde van sowat 1,7-miljoen-rand oor die Oranjerivier gesmokkel het.