Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 03 April 2025:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig die DA se toekoms in die regering van nasionale eenheid is in die weegskaal nadat hy teen die minister van Finansies, Enoch Godongwana se begroting gestem het. Die koerant skryf die party se onderhandelinge met die ANC is nou op ‘n dooie punt.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig die tariewe van 30-persent wat president Donald Trump op Suid-Afrikaanse invoere ingestel het, gaan die ekonomie hard slaan. Trump het die tariewe aangekondig op ‘n dag wat hy as die Amerikaanse Bevrydingsdag bestempel het.

Dan skryf die webblad die DA-woordvoerder, Willie Aucamp sê die DA sal binnekort ‘n besluit neem of hulle in die regering van nasionale eenheid gaan aanbly. Hy sê die party sal vandag die Hooggeregshof in Kaapstad nader om die goedkeuring van die begroting te betwis.

En laastens is daar nuus oor Kleuterzone Operations. Dit blyk daar is 10-miljoen-rand aan die dobbelgroep Peermont se Winner’s Circle oorbetaal.

GAUTENG:

# Sowetan:

Berig oor pastoor Timothy Omotoso wat ná agt jaar van 32 aanklagte, van verkragting tot mensehandel, vrygespreek is. Die koerant skryf die regter het die vervolgingspan se swak hantering van die verhoor uitgewys en sê die kruisondervraging was nie daarop gerig om die waarheid te ontbloot nie.

# The Star & Pretoria News:

Berig ook oor die vryspreking van Omotoso. Die koerant skryf die regsproses het die klaers in die steek gelaat en een getuie, Cheryl Zondi het in die hof inmekaargesak toe sy hoor Omotoso is ‘n vry man.

# En The Citizen:

Skryf oor die Suid-Afrikaanse afvaardiging wat met die Trump-regering in gesprek getree het om misverstande uit die weg te ruim.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Lei ook met Netwerk24 se storie oor die DA en die RNE.

En tweedens word berig oor hittegolwe wat die Wes-Kaap sal laat sweet tot Sondag.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig ook die 2025-begroting is goedgekeur, maar die toekoms van die regering van nasionale eenheid is onseker.

En tweedens skryf die koerant ook oor die vryspreking van Timothy Omotoso.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf haweloses in Pietermaritzburg dring aan op die skuiling wat aan hulle belowe is.

En berig oor die KwaZulu-Natalse sakevrou, Shauwn Mkhize wat die Inkomstediens meer as 37-miljoen-rand aan belasting skuld.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig die nuwe Namibiese minister van Onderwys, Sanet Steenkamp sê die beamptes van haar ministerie moet volstoom aan die werk spring.

En tweedens skryf die koerant daar is ‘n ernstige behuisingstekort in Mariental en Rehoboth.