Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 02 April 2025:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig president Cyril Ramaphosa het tot laat gister gesprek gevoer met die DA-leier John Steenhuisen oor die laaste wysigings aan die nasionale begroting.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig ook oor die gesprek tussen Ramaphosa en Steenhuisen en skryf nadat ActionSA en die IVP die regeringsvoorstelle aanvaar het, dreig die DA en MK-party nou met regstappe. Volgens die DA het ActionSA opnuut bewys hy span sy seile na die wind.

Dan skryf die webblad AfriForum het die wêreld versoek om sanksies in te stel teen die EFF-leier, Julius Malema en sy partylede oor die sing van Kill-the-Boer.

En laastens word berig die stigter van ‘n skuiling vir kinders in Schoemansville naby Hartbeespoortdam, Mike Cronjé het in die hof verskyn op wapen-aanklagte. Die sentrum is ook gesluit weens haglike omstandighede.

GAUTENG:

# The Star & Pretoria News:

Skryf daar is toenemende druk op AfriForum oor hul steun aan die vermeende Oos-Kaapse verkragter.

En berig bouwerk aan die nuwe parlementsgebou kan nou voortgaan nadat Maziya General Services die ou struktuur betyds gesloop het.

# Sowetan:

Berig met toenemende woede oor die verkragting van ‘n sewejarige Oos-Kaapse leerder het dit aan die lig gekom dat die verkragtingsvoorvalle waarby onderwysers betrokke is die afgelope jaar tot 100 gestyg het. Die Nelson Mandela-kinderfonds sê die verwaarlosing van kinders neem toe.

# En The Citizen:

Onthul die saamgestelde jaarlikse Eskom-tariefverhogings oor vyf jaar kom daarop neer dat verbruikers in werklikheid 77,5-persent meer betaal vir krag.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Het dieselfde hoofberig as Netwerk24 oor die begroting.

En tweedens word berig motorongelukke styg drasties rondom betaaldag in die Wes-Kaap.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig ’n span van die Oos-Kaapse Departement van Samewerkende Regering is in Nelson Mandelabaai ontplooi om administratiewe bestendigheid te bewerkstellig en dienslewering te verbeter.

En tweedens skryf die koerant oor die omstandighede by die Livingstone-hospitaal. Die telefone werk nie, sekerheidswagte daag nie op vir diens nie en drie pasiënte met geestesongesteldhede het uit die hospitaal ontsnap.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf ook oor die ooreenkoms wat bereik is ten opsigte van die nasionale begroting.

En berig die wêreld hou asem op vir nog tariefverhogings van Amerika.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig die voeding van duisende leerders in staatskoshuise is in gedrang aangesien die diens van die huidige diensverskaffers Maandag geëindig het.

Dan skryf die koerant die ministerie van Justisie en Arbeid het bevestig dat ’n formele ondersoek van stapel gestuur is na werkspraktyke by die Hotel De Duine in Hentiesbaai.

En laastens is daar nuus oor die Ruacana-waterval. Dit is tans ‘n skouspel wat dekades laas so asemrowend mooi was.