Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 02 Julie 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig South32 gaan die Richardsbaai-aluminiumsmelter verkoop as deel van ‘n transaksie ter waarde van 92-miljard-rand. Die Amerikaanse firma Alcoa Corporation gaan voortaan in beheer wees van die Hillside-smelter, die enigste primêre aluminiumsmelter in Suid-Afrika en die grootste in die Suidelike Halfrond.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig SALGA is bekommerd oor die verdere uitrol van die Aarto-wet aangesien dit ongekende druk op sukkelende munisipaliteite sal plaas.
En tweedens skryf die webblad die munisipale bestuurder van Madibeng, Quiet Kgatla, is gistermiddag buite Brits op die R-511 in sy motor geskiet. Hy is nie ernstig beseer nie.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf president Cyril Ramaphosa het die langverwagte Nkabinde-verslag van ondersoek na die geskiktheid van die Suid-Gautengse direkteur van Openbare Vervolging, advokaat Andrew Chauke, ontvang. Die koerant berig dit is ‘n belangrike mylpaal in ‘n proses wat byna ‘n jaar gesloer het.
#En Sowetan:
Berig die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, sê die rede vir die lae arrestasiekoers vir die gereelde skietvoorvalle in die provinsie kan toegeskryf word aan die gebrek aan ooggetuies. Teen-misdaad-aktiviste sê egter die mense vertrou nie die polisie nie.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig eerstens die DA het ‘n ondersoek gelas nadat oudpresident Jacob Zuma op besoek aan Indië deur die Suid-Afrikaanse hoëkommissars ondersteun is toe hy Ajay Gupta ontmoet het.
Tweedens is daar nuus oor ‘n buitelandse burger wat liewer by sy hond wil bly as die land verlaat.
En laastens is daar nuus oor die polisie in Australië wat ondersoek instel na die moontlikheid of ‘n verdagte wat in hegtenis geneem is vir die moord op ‘n 17-jarige meisie ook by ander moorde betrek kan word.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig gemoedere het weer opgevlam in Kuyga wes van Gqeberha na die teen-migrante-betoging in die gebied.
En tweedens skryf die koerant die Lewensredding-wêreldkampioenskappe, wat in November in Gqeberha plaasvind, is in die weegskaal aangesien die opknapping van die Newtonpark-swembad, wat einde Julie voltooi moes wees, nog nie begin het nie.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf eerstens ook oor Zuma se omstrede besoek aan Indië.
En tweedens is daar ‘n berig oor plaaslike Zimbabwiese vlugtelinge wat in die opelug in ‘n tydelike kamp in Havelocklaan geskuil het. Hulle word nou na ‘n skuiling verskuif.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig opposisieleiers het die regering beskuldig dat hy wetgewers vra om benoemdes vir die Verkiesingskommissie van Namibië goed te keur sonder om die nodige dokumentasie te verskaf.
En tweedens skryf die koerant ‘n vertraagde staatsubsidie veroorsaak dat die Uvhungu Vhungu-groenskema in Kavango-Oos se mielies ongeoes op die lande staan en waarde verloor.