Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 26 Maart 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig president Donald Trump het ‘n konserwatiewe aktivis en pa van een van Capitol-aanvallers op 6 Januarie 2021 as die nuwe Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika benoem. Leo Brent Bozell die Derde staan nou aan die hoof van die Amerikaanse Agentskap vir Globale Media, wat die regering-gesteunde mediahuis Voice of America besit.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig eerstens oor die aanklagte van onder meer seksuele aanranding en crimen injuria teen die voormalige Springbokafrigter, Peter de Villiers. Besonderhede oor die beweerde aanval is in getuienis in die Streekhof in Malmesbury vervat.
Dan skryf die webblad ook oor die benoeming van die verregse Brozell as ambassadeur in Suid-Afrika.
En laastens word berig oor die 36-jarige Hugo Ferreira wat in die Hooggeregshof in Pretoria skuldig gepleit het op aanklagte van die verkragting van en moord op sy agt dae oue babadogter, Caithlyn.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Skryf teenstand teen die BTW-verhoging in die begroting kring steeds uit met talle politieke partye en organisasies wat dit verwerp weens die negatiewe uitwerking wat dit op verbruikers gaan hê.
# Sowetan:
Berig daar is ernstige vrae oor die finansiële bestuur by die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging nadat dit aan die lig gekom het dat die bestuursligaam vir die tweede keer in drie maande nie salarisse betaal het nie.
# En The Citizen:
Skryf die korrupsie in die polisie is diep gewortel en strek tot in die bestuursvlakke. Kenners is bekommed dat dit haas onmoontlik is om die vrot appels te verwyder.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio het opnuut uitgevaar teen die EFF-leier, Julius Malema wat oor die naweek opnuut die Kill-the-Boer-liedjie gesing het. AfriForum het intussen ook vir president Cyril Ramaphosa gevra om homself van die liedjie te distansieer.
En tweedens skryf die koerant oor ‘n bejaarde Bolandse vrou wat amper saam met ‘n reusekobra in die bed geklim het vir ‘n middagslapie.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die Oos-Kaap is nie bankrot nie, maar die provinsie kan in die toekoms sukkel om sy boeke te balanseer as sy inkomste-invordering te kort skiet. Dit volg op provinsiale departemente se versoeke vir ‘n bykomende 8,1-miljard-rand.
En tweedens skryf die koerant die ontvoerders van Grant Cotterell van Gqeberha hou steeds sy hond gyselaar nadat hy ontsnap het. Die ontvoerders eis nou ‘n losprys vir die hond.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die KwaZulu-Natalse regering is beloon met ‘n bykomende begrotingstoekenning van die Nasionale Tesourie omdat hy sy vorige begroting beter as ander provinsies bestuur het. Die LUR vir Finansies, Francois Rodgers sê van die fondse wat KwaZulu-Natal nou ontvang is nie deur ander provinsies bestee nie.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die nuwe Namibiese president, Netumbo Nandi-Ndaitwah vereis ‘n flukse en flinke kabinet. Die koerant skryf die voormalige Omgewingsminister, Pohamba Shifeta koester nie ‘n wrok omdat hy uit die nuwe kabinet gelaat is nie.
En tweedens skryf die koerant ondanks die ernstige reënskade by Kalkrand, is Sandhof se lelies steeds ‘n lushof.