Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 24 Maart 2025:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig die regering is besig om ‘n kantoor te stig om privaat beleggings in hawe- en spoorinfrastruktuur te huisves. Die minister van Vervoer, Barbara Creecy sê haar departement is in die finale stadium om ‘n memorandum van verstandhouding met die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika en die Nasionale Tesourie te onderteken vir die stigting van ‘n Eenheid vir Privaatsektordeelname.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig die uitgeskopte Suid-Afrikaanse ambassadeur, Ebrahim Rasool is terug in die land en sê hy is nie spyt oor sy optrede in die VSA nie. Hy sê hy hoop president Cyril Ramaphosa vind ‘n geskikte persoon om die verbrokkelende bande met Amerika te herstel.

Dan skryf die webblad die 42-jarige jagluiperdkenner, Vincent van der Merwe het in Saoedi-Arabië selfdood gepleeg.

En laastens is daar nuus oor die negejarige Johandré Blom wat sy arm verloor het in ‘n krokodilaanval by die Roodekopjesdam naby Brits.

GAUTENG:

# The Star & Pretoria News:

Berig die adjunk-sekretaris-generaal van die ANC, Nomvula Mokonyane sê Sandtonrylaan se naam moet so gou as moontlik na die Palestynse vryheidsvegter, Leila Khaled vernoem word, want sy wil sien hoe die Amerikaanse konsulaat, wat in die straat geleë is, dit op hul briefhoofde druk. Die VSA het gedreig om die konsulaat te sluit.

En tweedens skryf die koerant een van die oudste oorlewendes van die Sharpville-slagting, die 82-jarige Molibedi Poonyane sê daar is baie meer as 69 mense doodgeskiet.

# Sowetan:

Berig die Gautengse premier, Panyaza Lesufi het die moord op vyf mense in Soshanguve verbind met voorvalle van afpersing.

# En The Citizen:

Skryf volgens kenners het Eskom nie die opwekkingsvermoë om aan die winteraanvraag te voldoen nie en daar wag ‘n donker koue winter op Suid-Afrikaners.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Staan sy hele voorblad af aan die vliegongeluk by die Weskus-lugskou toe die Impala-vliegtuig met James O’Connell neergestort het. Die skoukommentator wat reeds 36 jaar ondervinding het, Brian Emmenis deel sy skok oor die ongeluk met Die Burger se lesers.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie het onderneem om binne 30 dae kontrakteurs by die gevandaliseerde KwaNobuhle Veeldoelige Sentrum op die terrein te hê.

En tweedens skryf die koerant werkers by ‘n rits kleuterskole reg oor die Oos-Kaap wag angstig om uit te vind of hulle vir April betaal sal word, aangesien hul werkgewer, die KleuterZone-groep, finansiële ondergang in die gesig staar.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid het vertragings met sterfteregistrasies die skuld gegee vir die betaling van 140-miljoen-rand aan afgestorwenes.

En berig oor huise wat opgerig gaan word vir die slagoffers van die storms en oorstromings in KwaZulu-Natal.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig die vyfde en eerste vroulike president van Namibië, Netumbo Nandi-Ndaitwah is Vrydag ingesweer en Saterdag het sy haar nuwe, kleiner kabinet aangekondig.

En tweedens skryf die koerant Namibië se Onafhanklikheidsnaweek was papnat en gevul met vreugde, vieringe en dankbaarheid oor die milde landswye reën. Daar was egter ook skade wat chaos veroorsaak het.