Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 18 Maart 2025:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig huishoudings met ‘n lae maandelikse elektrisiteitsverbruik kan die grootste aandeel dra van Eskom se tariefverhogings, aangesien hul rekeninge na verwagting vanaf 1 April met soveel as 37-persent sal styg. Dit is ten spyte van die energiereguleerder Nersa se beperking van die gemiddelde verhoging in Eskom-tariewe tot 12,74-persent.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig president Cyril Ramaphosa het na die uitsetting van Ebrahim Rasool as ambassadeur in die VSA verwys as ‘n haakplek wat uitgestryk kan word. Hy sê hy wag vir Rasool se volledige verslag wanneer hy terugkeer.

Tweedens skryf die webblad die FW de Klerk-stigting het ‘n verslag oor menseregte uitgereik en die meeste regte in die land het sedert 2023 óf agteruitgegaan óf konstant gebly.

En laastens word berig oor die twee Nasa-ruimtevaarders, Butch Wilmore en Suni Williams wat uiteindelik ná nege maande terugkeer huis toe.

GAUTENG:

# The Star & Pretoria News:

Skryf inwoners van Johannesburg kla toenemend oor die bedrywighede van ‘n sindikaat wat vals deursoekingslasbriewe en vals arrestasies uitvoer. ‘n Groeiende aantal plaaslike inwoners kom na vore om hul kommerwekkende ervarings te deel. Dit dui daarop dat sommige lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens vals arrestasies uitvoer.

# Sowetan:

Berig dit gebeur al hoe meer dat die inwoners van plattelandse nedersettings ingryp om hulle lewensomstandighede te verbeter waar die munisipaliteite te kort skiet. In Limpopo het die inwoners van twee nedersettings ‘n brug herbou en in Mpumalanga het ‘n man sy padongelukkefondsuitbetaling gebruik om vir sy gemeenskap drinkwater aan te lê.

# En The Citizen:

Skryf die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube sê die regering moet besef hul kom nie die mas op met onderwys nie en almal moet saamwerk om kinders in arm gebiede te help.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Lei ook met Ramaphosa se reaksie op Rasool se uitsetting.

En tweedens berig die koerant oor die verslag oor die ineenstorting van die gebou in George waarin 34 mense dood is. Luidens die verslag is talle prosedures nie nagekom nie.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig die Hooggeregshof het opdrag gegee dat die Oos-Kaapse Departement van Onderwys voortaan alle vakante poste in die media moet adverteer.

En skryf oor die 23-jarige Lesedi Manala wie se ouers van Pretoria by haar bed in die hospitaal waak. Sy is ernstig beseer toe ‘n taxi by die Nelson Mandela-universiteit tussen ‘n groep studente ingejaag het.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf die vervaardiger van aluminiumplaat en -foelieprodukte, Hulamin is besig om sy belange in Pietermaritzburg uit te brei.

En berig die Ithala-groep is dringend op soek na fondse.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig die parlementêre komitee oor Grondwetlike- en Regsake het die ministerie van Verdediging en Veteranesake versoek dat die Veteranewet tot voordeel van volwasse kinders van die bevrydingstryd uitgebrei moet word.

Die koerant skryf tweedens die direkteur-generaal van die Namibiese uitsaaier, NBC dagvaar ‘n parlementêre komitee oor ‘n gebrekkige verslag oor menslike hulpbronne.

En ten slotte word berig die land se grootste diamantmyner, Debmarine Namibia se wins het met ses-miljard-rand gedaal as gevolg van ‘n dalende vraag na natuurlike diamante vir juweliersware.