Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 14 Maart 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig ANC-beleid vorm die kern van hul stryd met die DA oor BTW. Dit volg nadat die ANC die DA se voorstel om die Onteieningswet en die Nasionale Gesondheidsversekeringswet te wysig in ruil vir die party se steun van die begroting verwerp het.
# Mail & Guardian op Vrydae:
Lei met: “THE TAX BATTLE ISN’T OVER”. Die koerant skryf die kwessie van BTW sal nou in die Parlement se portefeuljekomitees verder bespreek word.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig kenners is van mening Suid-Afrika moes lankal uit die DRK onttrek het. Dit volg nadat die SAOG besluit het om geleidelik te begin met die onttrekking van sy lidlande se troepe.
Dan skryf die webblad twee voertuie is gisteraand deur vloedwater in Pinetown, KwaZulu-Natal meegesleur. Daar is tans nog geen inligting oor die insittendes nie. Die Weerdiens het nog reën voorspel.
En laastens word berig die Europese Unie gaan 94-miljard-rand in Suid-Afrika belê as teenvoeter vir president Donald Trump se staking van finansiering.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Skryf ‘n senior genoot by die konserwatiewe Hudson-instituut, Joshua Meservey, het ‘n omstrede strategie vir die VSA voorgestel om Suid-Afrika se toenemende teen-VSA-houding aan te spreek. Volgens die koerant stel Meservey voor dat die VSA spesifieke ANC-amptenare wat verantwoordelik is vir hierdie aksies, moet teiken.
En tweedens, berig die koerant die Stad Johannesburg het gister sy aangepaste begroting vir die 2024/25-boekjaar goedgekeur te midde van betogings en wydverspreide ongelukkigheid oor die elektrisiteitstoeslag van 230-rand op voorafbetaalde kliënte.
# Sowetan:
Berig die Ditsobotla-munisipaliteit in Noordwes het in duie gestort en dit lyk of niemand op provinsiale vlak juis omgee nie.
# En The Citizen:
Skryf die minister van Finansies, Enoch Godongwana sal moontlik die begroting weer moet herskryf indien die DA nie instem tot die BTW-verhoging nie.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die Kleuterzone Groep Skole is nou besig om soos ‘n kaartehuis inmekaar te tuimel. Een van die groep se beleggers het ‘n sekwestrasie-aansoek by die Hooggeregshof in Pretoria ingedien.
En tweedens skryf die koerant oor die gewese bankier, Jacques Pretorius, wat van die moord op sy vrou Sheri-Ann aangekla word. Volgens inligting wat nou aan die lig kom, was die paartjie glo baie ongelukkig.
En laastens is daar nuus oor daggakoekies.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig ’n Nelson Mandelabaai-wyksraadslid, Mpumelelo Majola, is gister deur verkeersbeamptes in hegtenis geneem, maar hy is later vrygelaat en hospitaal toe geneem.
En tweedens skryf die koerant sardyn- en ansjovistreilers mag nie meer in Afrika-pikkewynbroeikolonies visvang nie.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die MK-party het ‘n belangrike tussenverkiesing in Richmond gewen in ‘n wyk wat voorheen ‘n ANC-setel was.
En tweedens berig die koerant die regering van nasionale eenheid is “op die rotse” oor die BTW-geskil.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die regering se mondstuk die New Era Publication Corporation sukkel om sy belastingskuld te vereffen, ondanks sy staatsubsidie.
Dan skryf die koerant volgens die nuwe visumbeleid vir toeriste is meer toegangspunte bygevoeg.
En laastens is daar nuus oor die voortgesette soektog na die 83-jarige Switserse toeris wat sedert Sondag in die Sesriem-omgewing vermis word.