Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 13 Maart 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig politieke partye berei voor vir ‘n hewige parlementêre debat nadat die minister van Finansies, Enoch Godongwana ‘n begroting ter tafel gelê het wat ‘n tree agteruit gegee het op die BTW-verhoging wat hy verlede maand voorgestel het. Indiwiduele belastingbetalers moet nou staatsbesteding help finansier.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die minister van Landbou en DA-leier, John Steenhuisen sê hulle is steeds gekant teen die begroting omdat dit ‘n BTW-verhoging insluit. Hy het egter gesê die DA is steeds bereid om as deel van die regering van nasionale eenheid te onderhandel.
Dan skryf die webblad die kantoor van die omstrede Kleuterzone Groep van Skole in Stellenbosch is gesluit en daar is geen personeel teenwoordig nie.
En laastens is daar nuus oor die Joshlin Smith-saak. Die blad berig daar is in die hof getuig Kelly Smith sou na bewering vyf-duisend-rand aanvaar om haar kinders te verkoop.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Staan sy hele voorblad af aan Godongwana se begroting en skryf die welvaartsbestuurder van Consult by Momentum, Jurgen Eckmann waarsku die aankondiging oor die persoonlike inkomstebelasting wat nie vir inflasie aangepas word nie, het ernstige gevolge vir die verbruiker. Vir die tweede agtereenvolgende jaar beteken dit dat inkomste sal krimp, veral vir diegene wat deur salarisverhogings in hoër belastingvlakke ingeskuif word.
# Sowetan:
Berig die verlaagde BTW-verhoging gaan steeds ‘n negatiewe uitwerking op die armste mense hê. Die koerant skryf die regering het steeds ‘n moeilike stryd om die begroting goedgekeur te kry.
# En The Citizen:
Lei met: “BUDGET: GIVE A LITTLE TAKE A LOT”. Die koerant vra waar is die besparings om ‘n oorgrote regering terug te sny?
WES-KAAP:
# Die Burger:
Staan sy hele voorblad af aan die begroting en berig volledig oor die verskillende aspekte wat daarin vervat word. Die koerant berig die ANC se grootste uitdaging is nou om genoeg steun te kry om die begroting goed te keur.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig Nelson Mandelabaai gaan ‘n verdere 200-miljoen-rand ontvang. Dit is volgens die Wetsontwerp op die Verdeling van Inkomste wat gister deur minister Godongwana, bekendgestel is.
En tweedens skryf die koerant ‘n winkeleienaar, Jaffar Uddin is Dinsdag in KwaDwesi ontvoer, met ‘n losprys-eis vir sy vrylating.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die BTW-verhoging gaan ‘n reuse-uitwerking op verbruikers hê.
En berig daar is nog ‘n stormwaarskuwing vir KwaZulu-Natal uitgereik.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die stad Windhoek benodig na raming 7,8-miljard-rand om dienste te verskaf aan die sowat 165-duisend nuwe inwoners in die stad.
Dan skryf die koerant die minister van Sport, Jeug en Nasionale Diens, Agnes Tjongarero sê sy het versuim om op te tree ná ’n ondersoek van die Nasionale Jeugraad. Volgens die ondersoek moet die direkteur en uitvoerende voorsitter geskors word.
En laastens word berig ’n vrou van Rehoboth beweer sy moes ten aanskoue van ander pasiënte by die Katutura-staatshospitaal in Windhoek geboorte aan ’n vroeggebore baba skenk.