Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 10 Maart 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die bekende Suid-Afrikaanse dramaturg, akteur en regisseur Athol Fugard is ná ‘n lang siekbed in sy huis in Stellenbosch oorlede. Die koerant skryf Fugard is in 1989 deur die tydskrif Time as die grootste lewende dramaturg in die Engelssprekende wêreld aangewys.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig oor die moord op die 32-jarige Bevan Dudley van Kaapstad. Hy is na bewering deur ‘n bekende wat geld vir dwelmmiddels gesoek het met ‘n mes gesteek en op ‘n eiland in die N1 agtergelaat. Dudley was ‘n verpleër by Mediclinic Cape Gate.
Dan skryf die webblad die minister van Sport, Ontspanning en Kultuur, Gayton McKenzie sê Suid-Afrika se boere sal nie in Amerika aanpas nie. Hy het by die Boeremark in Bloemfontein gesê boere het vryheid in Suid-Afrika.
En laastens skryf die blad ook oor Athol Fugard se afsterwe.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Skryf dit blyk uit ‘n verslag deur Right to Justice dat ‘n verklikkersverslag oor Prasa-tenders wat toegeken was aan Maziya General Services in werklikheid deur die maatskappy se mededingers saamgestel is.
En tweedens word berig die politieke ontleder, professor Amanda Gouws sê AfriForum verteenwoordig nie alle Afrikaners nie en sy voel beledig dat dié aanname gemaak word.
# Sowetan:
Berig oor Johannesburg se brûe wat verkrummel en ineenstort. Die stadsraad het erken dat die laaste inspeksie nege jaar gelede uitgevoer is en dat die swaar reën bydra tot die agteruitgang.
# En The Citizen:
Skryf daar is meer as vyf-duisend onafgehandelde sake by die aktekantoor nadat werknemers besluit het hulle werk nie langer onder onveilige omstandighede nie. Die hysbak in die kantoorblok met 31 verdiepings werk ook nie meer nie. Dit blyk dat die regering geen aandag skenk aan die probleme nie.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig ook oor die moord op Bevan Dudley en die boodskap van Gayton McKenzie aan die boere.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig eerstens oor die moord op die menseregte-aktivis, Pamela Mabini wat in haar voertuig voor haar huis in Tshaukastraat in KwaZakhele doodgeskiet is.
En tweedens skryf die koerant oor ‘n krisis by die Driftsands-rioolaanleg waar miljoene liter rioolwater daagliks in die see uitloop.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die KwaZulu-Natalse regering het drie-miljard-rand ontvang om die onlangse vloedskade te herstel.
En berig tweedens oor ‘n besoek aan die nuwe korrektiewe sentrum in Pietermaritzburg.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die verhoogde prys van mielies belemmer volgens die onderwysministerie die aankoop van genoeg voorraad vir die uiters belangrike skoolvoedingsprogram.
En skryf tweedens die kragverskaffer in die Noorde, Nored, het meer as 520 onwettige kragverbindings ontdek.