Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 07 Maart 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig Suid-Afrika soek alternatiewe befondsing om ‘n klimaatfinansieringsgaping van 28-miljard-rand te vul nadat die VSA onttrek het aan die Billike Energie-oordragvennootskap met Brittanje, Frankryk, Duitsland en die EU. Dit spruit uit die VSA se groeiende antagonistiese houding teenoor groenenergie.
# En Mail & Guardian:
Lei met: “ROUND TWO: THE TOXIC TAX”. Die koerant skryf die tweede ronde van die begroting het aangebreek met BTW wat die verdelende faktor in die regering van nasionale eenheid is.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig eerstens oor die Joshlin Smith-saak. Luitenant-kolonel Lincoln Sebola van Saldanha het getuig Joshlin se ma Kelly het glad nie bekommerd voorgekom oor haar vermiste kind nie. Sy het glo gesê Joshlin gaan haar beroemd maak.
Dan skryf die webblad Ernst Roets, voorheen van Solidariteit, is glo met die halssnoermetode gedreig ná sy onderhoud met die Amerikaanse politieke kommentator, Tucker Carlson.
En laastens word berig president Cyril Ramapohosa sê Johannesburg is nie in staat om die G20-beraad aan te bied nie.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Lei met: “RESIDENTS RAGE AS BLOOD EVIDENCE FOUND IN JOSHLIN CASE”. Die koerant skryf ook oor die Joshlin Smith-saak en die gemeenskap se reaksie oor inligting wat in die hof aan die lig kom.
En tweedens berig die koerant die kurator het die Royal AM-sokkerklub in die mark geplaas.
# Sowetan:
Berig kopers van MaMkhize se Royal AM-sokkerspan kan tot 65-miljoen-maand per maand opdok vir die bedryfskoste van skuld. Voorts het die sage sy tol geëis met spelers wat bonusse misgeloop het.
# En The Citizen:
Skryf terwyl KwaZulu-Natal, Pretoria en nou ook Johannesburg deurloop onder vernietigende storms is daar geen voorafwaarskuwing deur weerkundiges nie.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig vandag weer oor die gru-ongeluk buite Heidelberg op die N2 waarin sewe mense omgekom het. Slegs vier mense het oorleef. Die koerant skryf twee sibbe het saam omgekom.
En tweedens word berig die Universiteit Stellenbosch sê al hoe meer jong mense met matriek kan nie verder gaan studeer of ‘n werk kry nie. Die syfer staan tans op meer as 49-persent.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die parlementêre komitee oor die Polisie gaan ondersoek instel na die Oos-Kaapse misdaadintelligensiehulpbronne en -vermoëns. Dit is ‘n gevolg van die toename in ontvoerings in die provinsie.
En tweedens skryf die koerant baie mense wat met MIV in Gqeberha leef, voel bang en kwesbaar nadat hulle weggewys is van die nie-winsgewende organisasies wat hulle voorheen van antiretrovirale behandeling voorsien het.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die chaos wat heers by lykshuise in KwaZulu-Natal lei tot groot leedwese by families en naasbestaandes.
En tweedens is daar ook ‘n berig oor die beleërde sokkerklub, Royal AM wat in die mark is.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig byna twee maande ná die noodlottige gewapende diamantrooftog by Namdia, het owerhede glo diamante ter waarde van 40,6-miljoen-rand, ’n klein gedeelte van die verbysterende 314,9-miljoen-rand se gesteelde diamante, teruggevind.
En tweedens skryf die koerant Namibië se kragnetwerk het ‘n hupstoot gekry met die inwyding van die Anixas II-kragstasie in Walvisbaai met ’n opwekkingsvermoë van 54 Megawatt. President Nangolo Mbumba het die seremonie waargeneem.