Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 06 Maart 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die twee grootste vakbonde by Transnet, Satawu en Untu, het in die lig van probleme wat die werkersklas in die gesig staar, loonverhogings vyf keer die inflasiekoers geëis. Die koerant skryf die stap bied nuwe uitdagings vir die uitvoerende hoof, Michelle Phillips.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die minister van Staatsdiens en Administrasie, Mzamo Buthelezi sê die regering het geen probleem indien fluitjieblasers vergoed word nie. Hy het aan ‘n teen-korrupsiegroep van die G20 deelgeneem.
Dan skryf die koerant die MK-party sê die polisie se klassifikasie van uiters geheim op die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat se verslag oor Phala Phala is net ‘n manier om dit toe te smeer.
En laastens word berig die polisie sê AfriForum se lys oor plaasmoorde bevat ook net een moord op ‘n plaaseienaar.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Berig die gespanne verhouding tussen die minister van Openbare Werke, Dean Macpherson en sy adjunk, Sihle Zikalala, het tydens ‘n parlementêre portefeuljekomiteesitting weer onder die soeklig gekom. Terwyl Macpherson probeer het om vordering op sleutelgebiede onder sy leierskap uit te lig, het Zikalala die teenoorgestelde voorgestel – dat die departement sedert Macpherson se aanstelling agteruitgegaan het.
# Sowetan:
Berig op die vooraand van president Cyril Ramaphosa en sy uitvoerende bestuur se vergadering met Gauteng, is daar net een versoek van die mense – maak asseblief ons stede reg.
# En The Citizen:
Skryf die uitvoerende hoof van Outa, Wayne Duvenage het ‘n 13-puntplan aan die minister van Finansies, Enoch Godongwana voorgelê om die tekort van 58-miljard-rand aan te vul. Die koerant vra of die minister die raad gaan volg.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Sit sy beriggewing oor die Joshlin Smith-saak voort. Dit het gister aan die lig gekom dat die sesjarige Joshlin se ma, Kelly Smith glo eers twee keer gaan Tik rook het voordat sy haar kind as vermis aangegee het.
En tweedens word berig Lesley-Anne Jullies van Oudtshoorn is dood nadat ‘n glasstuk haar in ‘n kroeg getref het. Daar was glo ‘n stryery en iemand het ‘n glas teen die muur stukkend gegooi.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig nadat dit aan die lig gekom het dat die DA ook die Trump-administrasie besoek het, het Oos-Kaapse Khoi-San-aktiviste gesê hulle wil ook met Trump gaan praat.
En tweedens skryf die koerant studente van die Nelson Mandela-universiteit wat reeds vir tien jaar staatmaak op pendeldienste, is meegedeel dat slegs studente wat deur die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente gefinansier word, voortaan mag saamry.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf honderde mense is dakloos ná die jongste oorstromings in KwaZulu-Natal.
En berig die Ouditeur-generaal het nog ‘n verdoemende verslag teen die Msunduzi-munisipaliteit uitgereik.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig sommige van die armste gemeenskappe het steeds geen toegang tot drinkwater nie en ly aan uiterste hongersnood.
Dan skryf die koerant NamPower is in ‘n skuldkrisis van byna een-miljard-rand gedompel.
En laastens word berig die burgemeester van Lüderitz sê die hawedorp verdrink in vullis.