Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 05 Maart 2025:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig ‘n BTW-verhoging van 0,75-persent is een van die opsies wat voorgestel word om die begrotingstekort van 60-miljard-rand oor die medium termyn te finansier. Die koerant skryf ‘n BTW-verhoging is steeds ingesluit omdat die kabinet nie kon instem om onbekostigbare beleidsitems te skrap nie.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig eerstens oor ‘n debat oor moedertaal in die Parlement. Verskeie sprekers het hul liefde vir Afrikaans verklaar en bewerings weerlê dat die taal in Suid-Afrika bedreig word.

En tweedens skryf die webblad die Westelike Provinsie-rugbyunie gaan waarskynlik nie net die Nuweland-stadion nie, maar ook 11 ander eiendomme verloor wanneer dit opgeveil word om skuld van meer as 250-miljoen-rand te delg.

GAUTENG:

# The Star & Pretoria News:

Skryf die ANC se streekskomitee in Johannesburg is steeds van plan om die streeksekretaris, Sasabona Manganye te skors. Dit sal volgens berigte by die komitee se volgende sitting hanteer word. Die koerant berig ten spyte van die ANC se vernuwingspogings, spook bewerings van onetiese gedrag steeds in sy interne strukture.

En tweedens word berig die minister van Finansies, Enoch Godongwana het steeds moeilike besluite om te neem oor die begroting. Die drie opsies op die tafel is ’n verhoging van 0,75-persent in Belasting op Toegevoegde Waarde, ’n brandstofheffingverhoging of ’n betalingsvakansie vir werkgewerbydraes tot die Staatsamptenarepensioenfonds.

# Sowetan:

Berig die gastoevoer aan die Charlotte Maxeke- en Rahima Moosa-hospitale is afgesny nadat die Gautengse Departement van Gesondheid nagelaat het om 14-miljoen-rand te betaal. Dit beteken pasiënte het geen warm water nie en hul kos kan nie voorberei word nie.

# En The Citizen:

Skryf ‘n groep Suid-Afrikaners wat hulself van AfriForum distansieer het ‘n boodskap aan Amerika gestuur dat hulle nie die land se aanbod van vlugtelingstatus sal aanvaar nie.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Berig oor ‘n motorongeluk op die N2 by Heidelberg waarin sewe mense omgekom het. Vier mense is in dieselfde ongeluk beseer. Die meeste slagoffers is nie ouer as 25 nie.

En tweedens skryf die koerant ook oor die WP-rugbyunie se dilemma.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig die Nelson Mandelabaai-metro het ‘n diensleweringshandves bekendgestel. Hiervolgens sal geringe waterlekkasies binne 10 dae herstel word, verstopte dreine binne 24 uur skoongemaak word, slaggate binne vyf dae gevul word, verbleikte padmerke in sewe dae geverf word en straatligte in 21 dae herstel word.

En tweedens skryf die koerant diefstalle by Nelson Mandelabaai se munisipale depots, het tot groot skade gelei, met 16 vragmotors wat van kritieke onderdele gestroop is, insluitend ‘n enjin in een geval.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf die inwoners van Bisley in Pietermaritzburg is gekant teen die beplande bou van ‘n nuwe gemeenskapsaal in die area en vra eerder vir die opknapping van die bestaande saal in Oribi.

En tweedens berig die koerant oor die moeilike kwessies wat die regering moet aanspreek in sy nasionale begroting.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig die Namibiese kabinet het die beleid vir universele gesondheidsdekking vir Namibië goedgekeur.

Dan is daar nuus oor twee afsonderlike voorvalle van verdrinking ná ’n swaar reënstorm in die suidelike woonbuurte van Windhoek.

En laastens skryf die koerant NamWater wil Rundu se water rantsoeneer oor 330-miljoen-rand se skuld.