Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 04 Maart 2025:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig die adjunkminister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Zuko Godlimpi, is as hoof van die ANC se ekonomiese transformasiekomitee aangestel. Godlimpi, die jongste lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee, vervang die minister van Justisie, Mmamoloko Kubayi, wat na Limpopo ontplooi is.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig die voormalige Solidariteit-bestuurslid Ernst Roets sê om na Amerika te vlug is nie ‘n uitkoms vir Afrikaners nie. Die webblad skryf Roets sê Suid-Afrikaners moet nou hul eie goed funksionerende gemeenskappe organiseer.

Dan skryf die blad president Donald Trump sê Amerika sal nie langer die president van Oekraïne, Volodymyr Zelensky se retoriek oor die oorlog teen Rusland duld nie.

En laastens is daar nuus oor ‘n brand in Despatch in die Oos-Kaap wat drie lewens geëis het.

GAUTENG:

# The Star & Pretoria News:

Berig twee ANC-veterane, Tokyo Sexwale en Matthews Phosa, het weer die omstredenheid rondom die Phala Phala-skandaal na vore gebring. Dit is ten spyte daarvan dat Ramaphosa deur die ANC se Integriteitskommissie onskuldig bevind is.

# Sowetan:

Berig mediese navorsing oor entstof in Afrika het ‘n nuwe terugslag gekry met Amerikaanse fondsbesnoeiings van nagenoeg 869-miljoen-rand wat vir navorsing en kliniese proewe geoormerk was.

# En The Citizen:

Skryf Zimbabwiese burgers in Suid-Afrika het ‘n dringende pleidooi gelewer om van die xenofobiese haat in die land gered te word. Hulle sê hulle word as tweedeklasburgers hanteer, vigilantegroepe beroof en vermoor hulle en hulle verdien hongerlone.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Berig eerstens oor die eerste dag van die Joshlin Smith-saak in die rondgaande Hooggeregshof in Saldanha. Kelly Smith, Steveno van Rhyn en Jacquin Appollis het in verband met die verdwyning van die sesjarige Joshlin verskyn en sal vandag pleitverduidelikings indien.

En tweedens skryf die koerant die uitvoerende hoof van AfriForum, Kallie Kriel sê hy het nie slapelose nagte oor die vier aanklagte van hoogverraad wat teen die organisasie ingedien is nie.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig die LUR vir Onderwys, Fundile Gade het belowe dat geen koste gespaar sal word vir die mediese behandeling van ‘n Motherwell-leerder wat die skool moes verlaat ná ‘n mislukte blindedermoperasie by die Livingstone-hospitaal nie.

En tweedens skryf die koerant ook oor die brand in Despatch. Yolande Barnard het haar man en twee niggies in ‘n onverklaarbare huisbrand verloor.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf ‘n tiener is na bewering dood tydens ‘n dwelmparty in die stad.

En berig talle grensposte is steeds gesluit weens oorstromings.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig ’n vrou wat verlede jaar in ’n staatshospitaal in Windhoek opgeneem is om ’n sist op haar eierstokke te laat verwyder, moes later verneem die dokter wat die operasie uitgevoer het, het na bewering haar derms beskadig.

En tweedens skryf die koerant volgens die minister van Binnelandse Sake, Immigrasie, Veiligheid en Sekuriteit, Albert Kawana is alles in plek vir die instelling van die nuwe visumbeleid vanaf 1 April.