Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 27 Februarie 2025:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig die kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, Edward Kieswetter, het die aandag gevestig op die wisselwerking tussen belastingbeleid en administrasie deur sy standpunt te herhaal dat die verhoging van belasting sy werk op die lang termyn sal bemoeilik.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig die Amerikaanse regering oorweeg ‘n wetsontwerp om sy betrekkinge met Suid-Afrika te hersien. Die webblad skryf dit volg ná die regering se onvermoë aan die lig gekom het om die land te bestuur of korrupsie te bekamp. Suid-Afrika se internasionale verhoudings wat die VSA se veiligheid bedreig is ook ter sprake.

En tweedens skryf die blad die familie van die vermoorde Steven Theron van Krugersdorp is geskok omdat sy vermeende moordenaar, die klubeienaar Jimmy Seou borgtog ontvang het. Seou het Theron na bewering buite sy kroeg doodgeskiet en is binne 15 minute op borg van 10-duisend-rand vrygelaat.

GAUTENG:

# Sowetan:

Berig die uitreiking van nuwe Sassa-kaarte het in ‘n krisis ontaard. Die minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Sisisi Tolashe sê die Poskantoor gaan nie daarin slaag om volgende maand se sperdatum te haal nie.

# En The Citizen:

Skryf bykans 70-persent van leerders in graad 6 kan nie sinvol lees nie en vra wat het die Departement van Basiese Onderwys aan die probleem gedoen.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Berig die enigste dooiepunt wat steeds bestaan tussen die Universiteit Stellenbosch en die Wilgenhof-alumnivereniging is die naam van die nuwe koshuis. Beide partye het mekaar om verskoning gevra oor wedersydse misverstande.

En tweedens skryf die koerant ook oor die Amerikaanse wetgewing wat op Suid-Afrikaanse betrekkinge van toepassing is.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig die opgradering van 4,6-miljard-rand aan Gqeberha se Hoofman Dawid Stuurman Internasionale Lughawe oor die volgende vyf jaar sluit in ‘n uitbreiding aan die aankoms- en vertreksaal, aanloopbaanrehabilitasie en meer parkering.

En tweedens skryf die koerant oor ‘n massa-opmars teen swak dienslewering in Makhanda waaraan die publiek, sakeondernemings, studente van Rhodes en kerkleiers deelgeneem het.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf die KwaZulu-Natalse provinsiale bestuur het aangebied om die Msunduzi-munisipaliteit te help om sy talle probleme op te los.

En berig oor die reuse-stormskade in die provinsie oor die afgelope tyd.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig die Kombat-kopermyn se bestuur het ‘n ooreenkoms bereik met die 533 mynwerkers wat onlangs skielik afgedank is.

Dan skryf die koerant vandag is die laaste streekgedenkdiens voordat wyle stigterspresident Sam Nujoma se kis môre na Windhoek teruggebring sal word.

En laastens is daar nuus oor Amanda en Given Gaoses wat saam met ‘n groep gemeenskapslede die Immanuel-ouetehuis in Okahandja besoek het.