Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 26 Februarie 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Trump-administrasie se antagonistiese houding teenoor multilaterale instellings en globale klimaatverpligtinge sal waarskynlik Suid-Afrika se finansiering van sy Billike Energie-oordragsvennootskap belemmer. Die minister van Elektrisisteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa sê die VSA is een van die grootste befondsers.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig eerstens oor ‘n besoek van AfriForum en Solidariteit aan die Withuis waar hulle die Trump-administrasie versoek het om eerder druk op ANC-leiers te plaas as op die land in geheel.
Dan skryf die webblad beurtkrag is opgeskort.
En laastens word berig die eerste groep van sowat 130 gewonde soldate van die SANW het uit die DRK in Suid-Afrika aangekom en is opgeneem in 1 Militêre Hospitaal in Pretoria. Daar is moontlik nog gewondes op pad.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Berig die minister van Verdediging en Militêre Veterane, Angie Motshekga sê haar departement het te doen met ‘n afwesige senior bestuur bestaande uit personeel wat nie geskik is vir die doel nie.
# Sowetan:
Berig beskadigde infrastruktuur het ‘n regstreekse uitwerking op leerders in Noordwes. In die jongste oorstromings is brûe verspoel wat dit vir leerders haas onmoontlik maak om die skool te bereik. Ouers is ook bekommerd dat die roete wat hulle nou moet volg gevaarlik is.
# En The Citizen:
Skryf ook oor die terugkerende gewonde soldate maar vra hoekom moes die weermaglede 30 dae wag om gespesialiseerde mediese behandeling te ontvang.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei met die voortgesette Smit-moordsaak. Die egpaar se sekerheidswag, Bradley van Eysland het getuig dat hy en die weduwee van die vermoorde Stellenbosse wynboer, Stefan Smit, ‘n seksuele verhouding gehad het. Suretha Smit staan tereg vir die moord op haar man.
En tweedens berig die koerant oor Barbara Griessel van Bloemfontein wat ‘n munisipale waterrekening van 61-miljoen-rand ontvang het.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit het tans 667 ongevulde vakatures en werk daaraan om die werwingsagterstand aan te spreek.
En tweedens skryf die koerant daar is na bewering sindikate doenig in die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid. ‘n Senior bestuurder in die Zwide-kantoor is geskors omdat hy na bewering vir twee jaar nie by die werk was nie
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die Msunduzi-munisipaliteit het ‘n veldtog teen wetsoortreders bekendgestel
En berig die ANC in KwaZulu-Natal gaan ingrypend geherstruktueer word.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig Namibië se pogings om te voldoen aan internasionale verpligtinge om maatreëls teen geldwassery en onwettige transaksies op te skerp, vorder goed.
Dan skryf die koerant die Meteorologiese Diens van Namibië het ’n weerwaak uitgereik vir matige tot swaar donderstorms en moontlike kitsvloede in Khomas, Otjozondjupa, Omaheke en Hardap.
En laastens is daar nuus oor verskeie organisasies wat Saterdag van Swakopmund na Walvisbaai stap ter nagedagtenis aan wyle stigterspresident, Sam Nujoma.