Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 30 Junie 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die polisie is op volle gereedheidsgrondslag vir die teen-immigrasie-betogings. Die koerant skryf die polisie sê hulle het hul hulpbronne ten volle gemobiliseer om openbare veiligheid te handhaaf en vinnig op enige voorvalle te reageer.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig politieke partye en burgerlike organisasies reg oor die spektrum het ‘n beroep gedoen op vreedsame betogings vandag. Daar is onder meer intelligensie ontvang oor “ernstige bedreigings” in KwaZulu-Natal.
En tweedens skryf die webblad die intelligensie-hoof, Feroz Kahn, wat ernstig gewond is in ‘n vermeende sluipmoordaanval, se verklaring sal steeds by die Madlanga-kommissie voorgelees word.
GAUTENG:
# The Star:
Berig die nasionale adjunkpolisiekommissaris, luitenant-generaal Tebello Mosikili, sê die veiligheidsgroep het sy nasionale operasionele plan bekend as “Operasie 30 Junie” geaktiveer, met duisende wetstoepassingsbeamptes wat oor al nege provinsies ontplooi is.
# Sowetan:
Lei met: “NATION ON KNIFE’S EDGE”. Die koerant berig plaaslike sakeondernemings bereken hul verliese en buitelandse toeriste kanselleer hul besoeke aan Suid-Afrika terwyl duisende migrante uit die land vlug. Die koerant skryf die polisie span tegnologie in en benut die dienste van privaat sekuriteitsmaatskappye om die publiek te beskerm.
# En The Citizen:
Skryf talle Suid-Afrikaners het besluit om vandag agter geslote deure tuis te werk aangesien daar vrese is dat die betogings gewelddadig kan raak.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig oor al die brandpunte wat in die Wes-Kaap geïdentifiseer is en oor die polisie wat vandag ook berede beamptes gaan inspan om die inwoners te beveilig.
En tweedens skryf die koerant die Kanadese rapper, Drake, het ‘n miljoen-dollar gewen met sy weddenskap teen Bafana Bafana in hul kragmeting teen Kanada.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die luggehalte by die Port Elizabeth-hawe is volgens Transnet tans uitstekend vir diegene met gesondheidsprobleme.
En tweedens skryf die koerant oor ‘n man wat deur die toedoen van vreemdelinge na 30 jaar weer kontak gemaak het met sy half-suster.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die planne om die Pietermaritzburg-lughawe te vergroot is bekendgestel. Die ontwikkelaars beplan handelsruimtes, ‘n vergrote aanloopbaan om nog lugdienste te hanteer en mettertyd ook ‘n hotel om toeriste te lok.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig slegs 54-persent van Namibiërs is tevrede met die diens wat hulle by die Departement van Binnelandse Sake ontvang.
Dan skryf die koerant Rundu moes ’n brandweerwa leen.
En laastens is daar nuus oor die FNB Windhoek Woordfees se beskermvrou, die minister van Onderwys, Sanet Steenkamp.