Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 17 Augustus 2026:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig wetstoepassingsbeamptes is op gereedheidsgrondslag by die 46ste beraad van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap in Durban nadat teen-immigrantegroepe gedreig het om by die beraad te betoog.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig die Ferrari van die sakeman Hangwani Maumela wat betrek word by die beweerde tenderbedrog van twee-miljard-rand by die Tembisa-hospitaal mag wel verkoop word.

En tweedens skryf die webblad ’n vyfde verdagte is vasgetrek vir die sluipmoord op die DA-raadslid Nhlalayenza Ndhlovu in 2023.

GAUTENG:

# The Star:

Skryf die polisie het ‘n tweede verdagte in hegtenis geneem in verband met die moord verlede week op twee Gautengse Teen-bende-eenheid-lede en twee vroue in Reigerpark. Die 24-jarige man is gistermiddag in hegtenis geneem deur ‘n multidissiplinêre span wat bestaan ​​uit die Valke, die Ekurhuleni-metropolisie, die polisie se Teen-bende-eenheid en Blitspatrollie.

# En The Citizen:

Berig boere wat hul grond deur suksesvolle grondeise verkry het, staan nou die kans om eiendomsreg te verloor aangesien hulle nog nie titelaktes of enige steun wat deur die regering belowe is, ontvang het nie. Die koerant skryf een van die boereverenigings wat hierdeur geraak word, is van plan om die kwessie in die hof te beveg.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Berig oor twee branderplankryers, Thys Lombard en Walter Swart, wat in afsonderlike voorvalle vermoedelik aan hartaanvalle oorlede is. Lombard het aan die Vintners Surf Classic in Jongensfontein deelgeneem en Swart het saam met sy seun branderplank gery in Bloubergstrand.

En tweedens skryf die koerant die winter is amper verby en die Wes-Kaap het nog nie genoeg reën gehad nie.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig oor kliënte se probleme met die diens van ‘n motorwerkswinkel in Newtonpark.

En tweedens skryf die koerant oor die Little Horse Memorial Park wat een van die beste krieketvelde kan bied vir die Wêreldbeker in 2027.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf oor Durban se aanbieding van die SAOG-beraad en berig tweedens oor Bangladesj se geskiedkundige krieketsege teen Australië.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig werknemers van die Agentskap vir Nywerheidsontwikkeling in Namibië is bekommerd oor hul toekoms nadat besluit is om 56 van die agentskap se 104 eiendomme aan die regering se nuwe eiendomsbestuurstruktuur oor te dra.

Dan is daar nuus oor die reusetekort aan maatskaplike werkers in Namibië. Daar is tans nagenoeg 14-duisend gevalle van geweld teen kinders en slegs 72 maatskaplike werkers landswyd om dit te hanteer.

En laastens skryf die koerant die Namibiese ritmiese gimnas, Emilia Ekandjo, het harte in Duitsland verower.