Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 12 Augustus 2026:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig die Departement van Binnelandse Sake het by die Tesourie aangeklop vir noodfondse aangesien die repatriasie van migrante sy begroting uitgeput het. Die repatriasie het sowat 300-miljoen-rand gekos.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig die kommissaris van die Grensbestuursowerheid, Michael Masiapato, het aan die Parlement gesê terwyl die repatriasie van onwettige migrante aan die gang was, het nagenoeg vier-duisend ander probeer om die land binne te sypel.

En tweedens skryf die webblad die federale voorsitter van die DA, Solly Msimanga, het gewaarsku die regering van nasionale eenheid sal nie kan voortbestaan indien die ANC ‘n radikale leier verkies nie.

GAUTENG:

# The Star:

Skryf die spesiale polisietaakspan in Motherwell in die Oos-Kaap het ‘n deurbraak gemaak teen ‘n sindikaat wat na bewering betrokke was by ’n reeks inbrake by huise en sakeondernemings in die gebied. Drie verdagtes is in die Mjondolo- informele nedersetting in hegtenis geneem en daar is beslag gelê op twee vuurwapens, ammunisie en vermoedelik gesteelde eiendom.

# Sowetan:

Berig ook oor die repatriasiekoste van migrante. Die koerant skryf beamptes het gewaarsku dat nagenoeg 89-duisend migrante weer op ‘n onwettige wyse sal probeer terugkeer na Suid-Afrika.

# En The Citizen:

Skryf ook oor die duur migrante-repatriasie. Die koerant berig lande soos Malawi, Nigerië en Etihiopië moet Suid-Afrika vergoed vir die uitgawes.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Berig oor die jongste meningsopname onder kiesers wat daarop dui dat die ANC se steun verder teruggesak het en die DA veral in Gauteng veld wen.

Dan skryf die koerant ‘n verskaffer van roof-televisiekanale teen 160-rand sal dalk tot 6,2-miljoen-rand moet opdok.

En laastens is daar nuus oor Donald Trump wat in ‘n spysenierswaentjie verskuif moes word met sy vertrek uit Turkye weens ‘n Iranse dreigement.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig oor die Oos-Kaapse werkloosheidsyfer wat steeds styg. Dit het van 44,6-persent in die vorige kwartaal tot 47,5-persent gestyg. Die koerant skryf werkloosheid in die provinsie het lank reeds krisis-afmetings aangeneem.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf die kommissievoorsitter, regter Mbuyiseli Madlanga, het die leier van die National Coloured Congress, Fadiel Adams, se verskoning dat sy skootrekenaar probleme verskaf, verwerp. Adams het dit as rede aangevoer vir die laat inhandiging van dokumente by die Madlanga-kommissie.

En tweedens berig die koerant oor ’n swanger Suid-Afrikaanse vrou wat glo in Las Vegas, Amerika in hegtenis geneem is.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig die Konfederasie van Namibiese Visseryeverenigings dreig om die besluit om ’n omgewingsklaringsertifikaat wat aan Namibian Marine Phosphate se Sandpiper-projek toegeken is, in die hof te betwis. Die konfederasie wil weet watter wetenskaplike studies is uitgevoer.

En tweedens skryf die koerant die veiligheidswaarde van die omstrede spoedhobbels op Windhoek se westelike verbypad moet gemeet word deur verskeie aanwysers te gebruik eerder as om bloot ongelukke te tel.