Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 07 Augustus 2026:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig provinsiale wetgewers wil die Onteieningswet behou. Hulle het in die Wes-Kaapse Hooggeregshof aangevoer die wet kan behoue bly met klein regstellings wat deur die parlementêre proses hanteer kan word. Die standpunt word ook deur president Cyril Ramaphosa gehuldig.

# Mail & Guardian:

Skryf oor die geskorste adjunkhoof van die Ekurhuleni-metropolisie, Julius Mkhwanazi, wat vir die vierde keer in hegtenis geneem is, maar steeds sy volle salaris ontvang.

# Die Papier:

Berig die Nasionale Vervolgingsgesag sal nou besluit of die voormalige minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Dina Pule, weens korrupsie vervolg gaan word. Die NVG het bevestig hulle is in besit van ‘n dossier oor Pule.

En skryf tweedens oor die swak luggehalte in Vanderbijlpark. Die inwoners vertel self van die gevolge en longsiektes wat mense opdoen.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig eerstens oor die Madlangakommissie. Oudregter Mbuyiseli Mdlanga het gister die bedryf- en ondersoekhoof van IDAC, Matthews Sesoko, gekritiseer omdat hy niks gedoen het om die politieke inmengery en korrupsie in die strafregstelsel te keer nie.

En tweedens skryf die webblad president Donald Trump het heftig gereageer op gerugte dat die VSA se krimpende wapenvoorraad een van die redes is hoekom hy die oorlog in die Midde-Ooste wil beëindig. Hy het diegene wat die bewerings versprei met tronkstraf gedreig.

GAUTENG:

# The Star:

Skryf die St Stithians College het hulde gebring aan ‘n oudleerder, die 19-jarige Ethan Coetzee en ‘n graad 11-leerder, die 17-jarige Cameron Waldeck-Cooks. Hulle is op 3 Augustus saam dood aangetref in ‘n kamer by ‘n lodge in Sabie. Die polisie stel ondersoek in na die omstandighede van hul dood.

# Sowetan:

Berig die familie van dokter Michael Isabelle het berusting gevind nadat sy moordenaars lewenslank tronk toe gestuur is. Hy is twee jaar gelede by sy praktyk in Dobsonville, Soweto vermoor.

# En The Citizen:

Skryf drank gaan uit die mode. ‘n Studie toon dat die sogenaamde Gen-Z-groep, mense tussen 14 en 29, baie minder drink as hulle ouers. Hulle maak eerder staat op energiedrankies, die gimnasium en meditasie vir stimulering.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Berig die staat het die geldkraantjie toegedraai en gaan nie vir die instandhouding van oudpresident Jacob Zuma se landgoed Nkandla betaal nie. Daar sal slegs bygedra word tot die sekuriteit van die oudstaatshoof.

En tweedens skryf die koerant die Stormers het ‘n besondere motivering vir hul All Black-kragmeting ontvang. Twee lede van die WP-span wat in 1976 die All Blacks met 12-11 gewen het, het hulle kom moed inpraat.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Lei met: “STOP-START AFFAIR: COUNCIL MARKED BY DELAYS, BICKERING”. Die koerant berig die Nelson Mandelabaai-metroraad word so besig gehou met mosies van wantroue en ander administratiewe sake dat hulle nie by hul verpligtinge soos die bestuur van dienslewering uitkom nie.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf, soos Die Burger, Zuma se ampswoning val uitmekaar en kort ernstige onderhoudswerk, iets waarvoor die staat nie gaan betaal nie.

En tweedens word berig die hoogliggende dele van KwaZulu-Natal maak gereed vir swaar sneeu-neerslae.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig die minister van Werke en Vervoer, Veikko Nekundi, het die Namibië Lughawensmaatskappy beveel om 19 maatskappyvoertuie terug te kry wat aan uitvoerende hoofde en bestuurders verskaf is nadat elk ’n administratiewe fooi van vyf-duisend-rand betaal het.

En tweedens skryf die koerant die Rundu-munisipaliteit moes die afgelope boekjaar ongeveer twee-miljoen-rand bestee om vernielde straatligte te herstel.