Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 06 Augustus 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig oudpresident Jacob Zuma se reis na Indië gaan lei tot die hersiening van protokolondersteuning vir voormalige presidente. Die Suid-Afrikaanse Hoëkommissaris in Indië, Anil Sooklal, is teruggeroep te midde van ‘n ondersoek na moontlike protokolskendings.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig hoewel president Cyril Ramaphosa gedwing kan word om voor die Ampsklagkomitee te getuig, kan hy volgens regsadvies nie die eerste getuie wees nie. Die komitee moet eers ‘n saak teen die president opbou.
En tweedens skryf die webblad die DA-leier, Geordin Hill-Lewis, sê hy gee nie om dat sommige van die partye in die regering van nasionale eenheid ongemaklik is oor die DA se betrokkenheid by die saak teen die Onteieningswet nie. Hy sê die wet is skadelik vir die land se buitelandse beeld.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf Suid-Afrikaners kan verhoogde druk op voedselpryse en ‘n hoër risiko van droogte oor die volgende twee jaar in die gesig staar nadat die Verenigde Nasies se Wêreldvoedselprogram gewaarsku het dat ‘n kragtige El Niño-weerpatroon ‘n verstommende 49-miljoen mense wêreldwyd teen die einde van 2027 in voedselonsekerheid kan plaas.
# En Sowetan:
Berig oor die korrupsiesaak teen oudminister Nosiviwe Mapisa-Nqakula in die Hooggeregshof in Pretoria. Die koerant skryf getuienis is gelewer oor die sak waarin Mapisa-Nqakula na bewering ‘n gunsloon van 400-duisend-rand ontvang het.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig ook Suid-Afrika se Hoëkommissaris in Indië is teruggeroep ná die Zuma-besoek aan Ajay Gupta. Die koerant skryf die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, sê oudpresidente sal vootaan meer inligting bekend moet maak oor hul voornemende buitelandse besoeke.
Tweedens skryf die koerant die jaarlikse blommeskou in Clanwilliam is gekanselleer omdat die meeste blomme weens die warm weer reeds uitgeblom is.
En laastens is daar nuus oor die swemkampioen, Chad le Clos, wat geld insamel vir sy bure nadat daar ‘n brand in die woonstelblok in Seepunt waar hy woon uitgebreek het terwyl hy in Glasgow was.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die Oos-Kaap is besig met ‘n proeflopie om vas te stel of aanlyn skoolregistrasie moontlikhede bied.
En tweedens skryf die koerant die polisie is besig met ‘n geregtelike doodsondersoek nadat ‘n man in ‘n nagklub doodgebrand het.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf oor die onlangse toename in moorde in Pietermaritzburg wat die gemeenskap geskok gelaat het. Dit sluit in die skietery van ‘n ma en haar kleuter, die moord op ‘n ma en haar eenjarige dogter tydens ‘n huisbraak, en die moord op ‘n 15-jarige meisie en haar ma by hul woning.
En tweedens berig die koerant die premier van KwaZulu-Natal, Thami Ntuli, is versoek om ondersoek in te stel na die stand van onderwys in die provinsie.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die ontbinding van die raad van die Namibië Lughawensmaatskappy volg op ’n ondersoek deur die ministerie van Werke en Vervoer. In die verslag word ook aanbeveel dat die uitvoerende hoof en twee bestuurders afgedank moet word. Die koerant skryf daar is op beweerde onreëlmatighede in bestuur, verkryging en werwing afgekom.
En tweedens skryf die koerant die inwoners van Du Plessis-plaas in die Omahekestreek sê hulle leef al jare lank sonder identiteitsdokumente en hulle het gevolglik geen toegang tot lewensbelangrike dienste nie. Hulle kan ook nie werk kry nie.