Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 05 Augustus 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Instituut vir Rasseverhoudinge sê die Onteieningswet herskryf die Grondwet se vergoedingstoets. Die koerant skryf die instituut sê hy aanvaar grondhervorming, maar voer aan die Onteieningswet kan verminderde vergoeding bevoordeel.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, sê sukkelende munisipaliteite sal slegs verbeter indien kiesers op 4 November bevoegde raadslede verkies.
En tweedens skryf die webblad oor die Artikel 89-ampsklagondersoek teen president Cyril Ramaphosa. Die storie is Die Burger se hoofberig.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die Kaapstad Internasionale Lughawe het normale aanloopbaanbedrywighede hervat nadat ‘n Kenya Airways-vliegtuig se band tydens landing gebars het. Dit het die tydelike sluiting van die lughawe se hoofaanloopbaan genoodsaak en vlugontwrigtings veroorsaak. Die Lughawemaatskappy sê die aanloopbaan is intussen oopgestel, maar lugrederye ondervind steeds vertragings.
# Sowetan:
Lei met: “ZUMA PARTY’S isiphithiphithi”. Die koerant berig daar heers wanorde in die MK-party. Daar word bespiegel dat oudpresident Jacob Zuma senior lede van die party uitskuif om plek te maak vir sy seun, Duduzane, as adjunkpresident om sodoende die toekomstige leierskap vir die familie te verseker.
# En The Citizen:
Skryf die Charlotte Maxeke Akademiese Hospitaal in Johannesburg is op die rand van ineenstorting. Die hospitaal gaan gebuk onder verskaffers wat nie betaal word nie, gereelde tekorte aan voorrade en operasies wat lukraak uitgestel word. Bronne in die hospitaal sê verskaffers het nie meer vertroue in die bestuur nie.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die voorsitter van die Artikel 89-ampsklagkomitee, Makashule Ganas, sê in hofdokumente voor die Konstitusionele Hof Ramaphosa se verpligting om in ‘n grondwetlike ondersoek rekenskap te gee, kan nie as onherstelbare skade vir hom beskou word nie.
Tweedens skryf die koerant ‘n student van Akademia se Paarl-kampus, die 18-jarige Paul Klaasen, het tydens ‘n raakrugbywedstryd inmekaar gesak en gesterf.
En laastens is daar nuus oor kunsmatige intelligensie wat deur ChatGPT ingespan kan word om vir jou ‘n huurmotor te bestel.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit is beveel om die instelling van die vaste-tarief elektrisiteitstariefstruktuur te staak. Die Hooggeregshof in Gqeberha het ‘n tussentydse bevel in die verband toegestaan. Inwoners se geld moet ook terugbetaal word.
En tweedens skryf die koerant die gewilde pretpark, Playland, sal nie vir die 2026/2027-seisoen na Gqeberha terugkeer nie. Die eienaars sê as gevolg van die aansienlike verhoging in die grondhuurbedrag, is dit ongelukkig nie meer finansieel lewensvatbaar vir hulle om voort te gaan nie.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die DA vra ‘n dringende ondersoek na die Umbulwane-behuisingsprojek waarop reeds 120-miljoen-rand bestee is. Daar is volgens berigte slegs 90 van die beplande 505 wooneenhede voltooi.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig daar heers verwarring oor die toekoms van die regering se Taakspan vir die Hersiening van Staatsondernemings nadat sy voorsitter, professor Joseph Diescho, gesê het die taakspan van elf lede is skielik ontbind. Daar is ook berigte dat die taakspan se werk bloot opgeskort is hangende ’n hersiening.
En tweedens skryf die koerant die ministerie van Gesondheid en Maatskaplike Dienste het bykans 793-miljoen-rand geoormerk vir die opgradering van hospitaalinfrastruktuur en toerusting.