Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 04 Augustus 2026:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig die hoof van die Valke, Ebrahim Kadwa, het sy stryd verloor om die polisie te verhoed om toegang tot sy foon te verkry. Die koerant skryf Kadwa sê die foon is sonder ‘n beslagleggingsbevel deur die polisie gevat.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig die Hooggeregshof in Johannesburg het gister verneem een van die medebeskuldigdes in die Matlala-verhoor, Musa Kekana, het na bewering bloed gehoes toe hy in hegtenis geneem is. Die hof het getuienis aangehoor oor die toelaatbaarheid van die bewyse wat tydens Kekana se arrestasie gevind is.

En tweedens skryf die webblad grafskenders het weer op die graf van die PAC-stigterslid Robert Sobukwe in Robert Sobukwe-dorp toegeslaan en wou dié keer die kis steel. Daar heers verdeeldheid in die gemeenskap oor die naamsverandering van die dorp voorheen bekend as Graaff-Reinet.

GAUTENG:

# The Star:

Skryf die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, het ‘n nuwe aanlyn diens bekend gestel wat daarop gemik is om dit vir Suid-Afrikaners makliker te maak om deelnemende banktakke op te spoor waar hulle vir Slim ID-kaarte kan aansoek doen. Die koerant berig die diens, beskikbaar op die departement se aanlyn platform, stel landsburgers in staat om onmiddellik hul naaste deelnemende banktak te vind.

# Sowetan:

Berig waar ‘n sportkompleks vir die gemeenskap van Emfuleni gebou sou word, is vandag net ‘n oop stuk grond vir dwelmhandel en aanvalle op inwoners. Die munisipaliteit sê 24-miljoen-rand is bestee aan die riool- en elektrisiteitsinfrastruktuur, maar nog 160-miljoen-rand word benodig om die projek te voltooi.

# En The Citizen:

Skryf kenners is van mening sonkrag het ‘n baie groot rol gespeel in die sukses van Eskom se omkeerplan. Die kragvoorsiener het 441 dae laas beurtkrag toegepas en sy dieselkoste drasties ingekort.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Berig die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, sê sportfederasies moet nie voortdurend by die regering aanklop vir fondse terwyl lui federasiebase niks doen om geld in te samel nie.

En tweedens skryf die koerant die Malawiese burger wat nie uit Suid-Afrika wou vlug sonder sy hond nie, is deur weldoeners met die hond verenig in sy vaderland.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig al hoe meer skole in die Oos-Kaap word deur misdadigers geteiken. Die Hankey Secondary School het deurgeloop onder vandale en die koerant publiseer foto’s van die ernstige skade wat aangerig is.

Die koerant skryf ook oor onderwyspersoneel wat in KwaZakhele deur gewapende mans beroof is.

En daar is ook nuus oor ‘n slaggat-herstelprojek wat in Nelson Mandelabaai van stapel gestuur is.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf die DA wil hê die Openbare Beleggingskorporasie moet ontbind word weens die talle bestuursprobleme.

En tweedens het die koerant ‘n openhartige onderhoud met Siya Kolisi gevoer.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig ‘n 84-jarige man en sy 82-jarige vrou is vir die tweede keer in hul huis in Windhoek oorval, aangerand en beroof. Vyf mans was betrokke. Die koerant skryf dis die jongste voorval in ‘n vlaag van gewelddadige huisinbrake gemik op bejaardes in die stad.

En tweedens skryf die koerant die uitvoerende hoof van Leonardville in die Omahekestreek, Willie Swartz, is na bewering vir ’n groot deel van die werksweek afwesig. Swartz ontvang ’n salaris en het ’n amptelike woning in die dorp, maar hy bestee glo die meeste van sy tyd in Rehoboth.