Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 28 Julie 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging het die strafregtelike aanklagte teen die hoof van Misdaadintelligensie, Dumisani Khumalo en sy medebeskuldigdes voorlopig teruggetrek. Daar is voor die Madlanga-kommissie getuig dat sleutelgetuienis in die saak moontlik saamgeflans is.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die Verkiesingskommissie het politieke partye gewaarsku om nie net stemme te werf nie, maar ook hulself voor te berei om koalisies te vorm na die verkiesing.
En tweedens skryf die webblad die hofaansoek van dokter Wouter Basson teen sy tugverhoor voor die Raad vir Gesondheidsberoepe het misluk.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf ook oor die saak teen Khumalo wat voorlopig teruggetrek is.
En berig tweedens oor Banyana Banyana wat met die intrapslag by WAFCON ‘n skokkende 2-1-nederlaag teen Tanzanië gely het.
# Sowetan:
Lei met: “SHAMEFUL” en het ‘n reusefoto van die voormalige IDAC-hoof, Andrea Johnson, op die voorblad. Die koerant berig die Ondersoekdirektoraat Teen Korrupsie het ‘n verdere terugslag beleef nadat die Khumalo-saak teruggetrek is.
# En The Citizen:
Skryf ‘n voormalige geleentheidsbeplanner by die Waternavorsingskommissie is weer stilweg aangestel nadat sy 50-duisend-rand se drank vir ‘n werksfunksie gekoop en deur die Openbare Beskermer ondersoek is.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig kenners is van mening Andrea Johnson se bedanking verwyder haar nie uit die spervuur nie. Indien sy enige strafregtelike oortreding begaan het, sal sy steeds vervolg word.
En tweedens skryf die koerant die hoof van die Hoërskool Paarl Gimnasium, Paul Viljoen, sê daar gaan tugstappe gedoen word teen leerders wat kru taal gebruik het in ‘n video waarin hulle hul teenstanders die Hoër Jongenskool Paarl slegsê.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig ‘n boekhouer van Gqeberha, Kirsten Diener, is deur die Valke in hegtenis geneem omdat sy na bewering haar voormalige werkgewer met meer as drie-miljoen-rand bedrieg het. Volgens die koerant het sy voorheen reeds met die gereg gebots.
En tweedens skryf die koerant ‘n DA-lid in die Oos-Kaapse Wetgewer, Retief Odendaal, het briewe waarin nasionale ingryping by munisipale misdaad versoek word aan die Presidensie en polisieministerie oorhandig.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die geskiedkundige polisiestasie in Jabu Ndlovu-straat in Pietermaritzburg gaan opgeknap word.
En tweedens word berig koning Misuzulu kaZwelithini het weer inkosi Malusi Zondi en prins Afrika Zulu as raadgewers aangestel. Die koerant skryf die herstrukturering van die koningshuis duur skynbaar voort.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die 39-jarige Rachel Frans van Havana in Windhoek het na bewering ‘n foto van haar moordenaar geneem enkele oomblikke voordat hy haar doodgeskiet het. Haar kêrel, die 41-jarige Ben Urikhob, het gister in die hof verskyn.
En tweedens skryf die koerant ’n man wat die polisie vermoed moontlik verbind kan word met die beweerde verkragting van nege vroue in Rundu sedert Desember, is borgtog geweier.