Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 24 Julie 2026:

# Nuusweek:

Skryf eerstens uitspraak word vandag verwag in die aansoek van president Cyril Ramaphosa om die werksaamhede van die Ampsklagkomitee te onderbreek. Die koerant berig Ramaphosa wil oorleef al is dit teen landsbelang.

Tweedens word berig oor die terugkoopkoers wat onveranderd gelaat is ondanks stygende inflasie.

En laastens skryf die koerant die sokkerbaas en mynmagnaat, Patrice Motsepe, sê hy het geen planne om die politiek te betree of homself as president beskikbaar te stel nie.

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig David Masondo het bedank as voorsitter van die Openbare Beleggingskorporasie.

# Mail & Guardian:

Skryf voorts oor die minister van Finansies, Enoch Godongwane, wat ondanks sterk teenstand deur die raad van die Openbare Belegginskorporasie, daarin geslaag het om beheer oor die OBK te verkry.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig president Cyril Ramaphosa verdedig die Onteieningswet in geheel maar het in hofdokumente erken daar is probleme wat reggestel moet word.

En tweedens skryf die webblad meer as 12-duisend onwettige buitelanders is die afgelope drie maande in Suid-Afrika in hegtenis geneem.

GAUTENG:

# The Star:

Skryf die raad van Build One South Africa het besluit om die partylidmaatskap van sy lid in die Gauteng Provinsiale Wetgewer, Ayanda Allie, te beëindig. Die besluit is geneem na ‘n interne tugproses. Die koerant berig die voorsitter van die BOSA-raad, Stevens Mokgalapa, sê die party het voortdurend pogings aangewend om ‘n vriendskaplike oplossing te bereik.

# Sowetan:

Berig die hoogservare sokkerafrigter, Pitso Mosimane, het bevestig dat hy met die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging gesprekke gevoer het oor die moontlikheid om Hugo Broos as Bafana Bafana-afrigter te vervang.

# En The Citizen:

Skryf volgens kenners is die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente in algehele wanorde. Dit blyk dat middelklas families tans die fonds misbruik ten koste van arm studente wat uitsetting en hongersnood in die gesig staar.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Berig Suid-Afrikaners sal dalk nooit die bevindinge te sien kry van die raad van ondersoek na die Will for Peace-vlootoefening nie. President Ramaphosa het in die Parlement gesê hy mag dalk besluit om nie die inhoud van die verslag bekend te maak nie.

En tweedens skryf die koerant die legendariese WP-heelagter, Calla Scholtz, het in die Caledon-landdroshof verskyn op aanklagte van gesinsgeweld.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig daar is opnuut hoop vir die vrou van George, Ashley Oosthuizen, wat in ‘n Thaise tronk aangehou word. Sy dien ‘n vonnis uit vir dwelmverwante klagtes. Haar vonnis is nou vir die tweede keer ingekort deur nog ‘n koninklike kwytskelding.

KWAZULU-NATAL:

# Daily News in Durban:

Skryf die Madlanga-kommissie het ‘n bevel uitgereik oor vandag se getuienis van die Noordwes-sakeman, Suliman Carrim. Dit verbied enige openbare bekendmaking van sy mediese toestand of besonderhede rakende sy gesondheidsorgverskaffers en behandeling.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig die minister van Myne, Energie en Nywerheidsontwikkeling, Modestus Amutse, sê Namibië sal nie sy petroleumwette vir buitelandse firmas buig nie.

En tweedens skryf die koerant ouers by die Pro-Ed Akademie in Swakopmund het gestem om die skool se Internasionale Sekondêre Sertifikaat kurrikulum van die Onafhanklike Eksamenraad met die Namibië Senior Sekondêre Sertifikaat te vervang. Dit sal Afrikaansmedium-onderrig tot matriek by die skool beëindig. ‘n Groep van die ouers sê egter die besluit is ongrondwetlik.