Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 26 November 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Die heersende IKR-wêreldtoetskampioen, Suid-Afrika, het Indië met ‘n reuse-408 lopies verslaan om hul eerste reeksoorwinning op Indiese bodem in 25 jaar te verseker. Simon Harmer het ses paaltjies geneem toe die gashere in hul tweede beurt uitgeboul is vir 140 in die tweede en laaste toets. Die Proteas het 489 in hul eerste beurt aangeteken toe Senuran Muthusamy 109 bygedra het. Indië is daarna vir 201 uitgeboul toe Marco Jansen ses paaltjies geneem het. Suid-Afrika het hul tweede beurt op 260 vir vyf gesluit.
Intussen is Suid-Afrika in Groep D saam met Nieu-Seeland, Afganistan, Kanada en die Verenigde Arabiese Emirate vir volgende jaar se Mans-T20-Wêreldbekertoernooi in Indië en Sri Lanka. Die Proteas skop hul toernooi op 9 Februarie in Ahmadabad af teen Kanada. Indië, die verdedigende kampioen, is in Groep A saam met 2009 se wenner, Pakistan, Namibië, Nederland en Amerika. Groep B bestaan uit Australië, Ierland, Sri Lanka, Zimbabwe en Oman. Die tweemalige kampioen, Engeland, is in Groep C saam met Bangladesj, die nuweling, Italië, Nepal en die Wes-Indiese Eilande.
# Rugby: Die Stormers, wat boaan die punteleer van die Verenigde Rugbykampioenskap is, gaan sonder tot soveel as ses Springbokke moet klaarkom wanneer die seisoen die naweek hervat. Die direkteur van rugby, John Dobson, glo egter daar is genoeg diepte vir Saterdag se botsing teen Munster in Ierland. Die gasheer is tans tweede op die punteleer. Albei spanne is onoorwonne op 23 punte, maar die Kaapse span het ‘n punteverskil van 118 teen Munster se 36. Die Stormers het nog nooit op Thomond-park gewen nie.
# Gholf: Die belowende Suid-Afrikaanse sterspeler Christo Lamprecht het ‘n persoonlike uitnodiging van Gary Player ontvang om van 4 tot 7 Desember aan die Nedbank-uitdaging by Sun City deel te neem. Player skryf dit was ‘n groot vreugde om Lamprecht se vordering deur die jaar dop te hou en hoe hard hy gewerk het om ‘n plek in die PGA-toer te bespreek. Hy sê hy sien daarna uit om Lamprecht die eerste keer op Sun City te sien deelneem aan Afrika se major-toernooi voor sy tuisskare.
# En sokker: FIFA het die trekkingformaat vir volgende jaar se Wêreldbekertoernooi verander, wat beteken die topvier lande, Spanje, Argentinië, Frankryk en Engeland, ontmoet mekaar eers in die halfeindronde. Op vorige toernooie is spanne se pad in en deur die uitklopfase bepaal deur die groep waarin hulle tydens die trekking beland het. Die trekking vind volgende Vrydag in Washington plaas. Hier word 48 spanne in vier potte geplaas waar hulle in 12 groepe van vier spanne getrek word. Suid-Afrika is in pot drie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….