Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 12 Junie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Die Springbokke is besig met ‘n oefenkamp in Pretoria voor hulle eerste toets van die seisoen volgende Saterdag teen Wallis op Twickenham in Londen. Die wedstryd val buite die internasionale venster en klubs is nie verplig om hulle internasionale spelers te verskoon nie. Spelers in Europa is dus nie beskikbaar nie. Springbokafrigter, Rassie Erasmus, sê dit bied ‘n goeie geleentheid om diepte in die groep te bou:
# Sokker: Bafana Bafana het Zimbabwe gisteraand drie-een geklop in die Vrystaat-stadion in Bloemfontein in hulle kwalifiseringsveldtog vir 2026 se Wêreldbekertoernooi. ‘n Doel deur Iqraam Rayners en ‘n twee-kuns deur Thepelo Morena in die tweede helfte, het die wedstryd in hulle guns beklink. Die oorwinning plaas Suid-Afrika tweede in Groep C na Rwanda, wat ook sewe punte het, maar ‘n beter doelgemiddeld as Bafana. Afrigter Hugo Broos is tevrede:
# Krieket: Suid-Afrika het vir die Super Agt-fase van die T20-Wêreldbekertoernooi gekwalifiseer nadat die wedstryd tussen Sri Lanka en Nepal in Florida weens reën afgelas is sonder dat ‘n enkele bal geboul is. Die Proteas is met drie oorwinnings in drie wedstryde bo-aan Groep D met ses punte, terwyl Bangladesj en Nederland elk twee punte van twee kragmetings het. Suid-Afrika speel Saterdag in Kingston teen Nepal in sy laaste groepswedstryd.
Australië het ook vir die laaste agt gekwalifiseer toe hy Namibië vandag in Antigua en Barbuda met nege paaltjies geklop het. Die draaibouler Adam Zampa het vier paaltjies geneem en gehelp om Namibië vir 72 uit te haal. Travis Head het Australië se hoogste telling van 34 nie uit nie aangeteken en hulle het die teiken in die sesde boulbeurt bereik.
# En, gholf: Die wêreld se nommer-een, Scottie Scheffler van Amerika, sy landgenoot Xander Schauffele en Rory McIlroy van Noord-Ierland is saam gegroepeer vir die eerste ronde van die 124ste Amerikaanse Ope, wat môre begin. Die Amerikaner Wyndham Clark, wat McIlroy verlede jaar geklop het, begin sy titelverdediging saam met sy landgenote Brian Harman en Nick Dunlap. Die driemalige wenner, Tiger Woods, slaan saam met Will Zalatoris van Amerika en die kampioen van 2022, Matt Fitzpatrick van Engeland, af. McIlroy sê dit is opwindend om deel van die uitgelese groep te wees:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….