Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 11 Junie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is………
In die bulletin:
# Die MK-party se stigter dien ‘n dringende hofaansoek in om sy verwydering as parlementslid te verhoed
# Een persoon is dood in ‘n ontploffing by Quantum Foods se voermeule in Malmesbury
# En SA Rugby sê Oostelike Provinsie aan om nuwe leiers te verkies
# Die geskorste stigter van die MK-party, Jabulani Khumalo, het ‘n dringende hofaansoek by die Wes-Kaapse Hooggeregshof ingedien om sy verwydering as lid van die Parlement te voorkom. Hy betwis sy verwydering deur oudpresident Jacob Zuma en eis sy heraanstelling as die party se nommer een-kandidaat. Khumalo se regspan voer aan sy verwydering was onwettig. Die dringendheid van die saak word beklemtoon weens die naderende inhuldiging van LP’s, met Khumalo wat waarsku hy sal onherstelbare leed aangedoen word indien die situasie nie reggestel word nie. Die hof sal Donderdag die saak aanhoor.
# Quantum Foods se voermeule in Malmesbury in die Wes-Kaap het bevestig een persoon is dood in ‘n ontploffing op sy perseel. Nog twee mense het ernstige beserings opgedoen. Die oorsaak van die ontploffing is steeds onbekend en ‘n onafhanklike ondersoek is begin. Volgens die maatskappy is alle veligheidsprotokolle gevolg en noodtoerusting suksesvol geaktiveer. Die maatskappy sê hy gee ondersteuning aan die gesinne wat geraak is.
# Die Hooggeregshof in Mbombela het ‘n polisiekonstabel van Mpumalanga, Sizwe Cedrick Khoza, gevonnis tot drie keer lewenslank vir die moord op sy vrou, haar suster en haar broer in Hazyview. Khoza, wat by die Masoyi-polisiestasie gestasioneer was, het skuld beken op drie aanklagte van moord. Die Nasionale Vervolgingsgesag se woordvoerder, Monica Nyuswa, sê die hof het hom ook onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit:
# Die Britse eerste minister en leier van die Konserwatiewe Party, Rishi Sunak, fokus veral op grens-sekerheid in die party se verkiesingsmanifes. Volgens Sunak is die doel daarvan om ‘n einde te bring aan onwettige immigrasie, en bote te verhinder om die Engelse Kanaal oor te steek. Daar was tot dusver vanjaar reeds ‘n rekordgetal van tien-duisend-448 oorvaarte en Sunak bevestig deportasievlugte vir onwettige immigrante sal volgende maand begin. Hy onderneem om immigrasie te halveer en benadruk die belangrikheid van grens-sekerheid in die Verenigde Koninkryk:
# SA Rugby raai die Oostelike Provinsie-Rugbyunie aan om ag te slaan op sy vroeëre aanmaning om binne 21 dae ‘n spesiale algemene vergadering te hou om ampsdraers te verkies. SA Rugby het aan die unie geskryf en sy standpunt herbevestig na ‘n hofbevel op 4 Junie wat die verkiesing van Gerald Antonie en Roger Serfontein as onderskeidelik president en adjunkpresident ongeldig verklaar. Die hofbevel het die posisie van president, adjunkpresident en voorsitter van afrigting en ontwikkeling vakant gelaat.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-65-sent teen die dollar, 20-rand-1-sent teen die euro en 23-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-908-dollar-22-sent. Die prys van goud is twee-duisend-313-dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-49-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….