Nuus 17:00
BULLETIN 29 Oktober 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Katiso “KT” Molefe se lyfwag sê Molefe is vriende met minister Senzo Mchunu
# Die NVG bevestig een van die vermoorde niggies van Mamelodi was die aangeklaagde se meisie
# En krieket: ‘n Meesterlike kolfbeurt deur Laura Wolvaardt lei die Proteas na 319 vir sewe in hulle Wêreldbekerhalfeindstryd teen Engeland
# ‘n Voormalige lid van die taakspan vir politieke moorde, kaptein Maxwell Wanda, sê een van die moordbeskuldigde “KT” Molefe se beweerde lyfwagte het tydens sy inhegtenisneming in Desember gesê die sakeman is vriende met die minister van Polisie, Senzo Mchunu. Wanda het voor die Madlanga-kommissie in Pretoria getuig hy het die opmerking ligtelik opgeneem en voortgegaan met die optrede, insluitend die deursoeking van Molefe se eiendom in Sandhurst, Johannesburg:
# Die Nasionale Vervolgingsgesag het bevestig een van die niggies wat in Mamelodi-Oos in Pretoria vermoor is, Tshiyamo Moramaga, was die meisie van die moordbeskuldigde Tebogo Mnisi. Tshiyamo en Boleseng Moramaga is vermoor, terwyl hulle vriend Desmond Semang, wat saam met hulle by die taverne was, oorleef het. Tshiyamo het glo daardie aand ‘n WhatsApp-boodskap om hulp gestuur. Mnisi het vandag sy borgtogaansoek laat vaar. Lumka Mahanjana van die NVG sê geslagsgeweld en vrouemoord bly ‘n ernstige bekommernis:
Die stigter van Voice It In Action, Kgothatso Moloto, doen intussen ‘n beroep op president Cyril Ramaphosa om geslagsgeweld en vrouemoord aan te pak. Die saak teen Mnisi is uitgestel tot 19 Januarie volgende jaar. Moloto het kommer uitgespreek oor die toenemende aantal gevalle van geslagsgeweld.
# Die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit het die 2025/26-plesiervaartseisoen amptelik van stapel gestuur met die aankoms van die Mein Schiff 4 in die hawe van Port Elizabeth. Die burgemeester Babalwa Lobishe, en hawebestuurder, Pamela Yoyo sê die plesiervaartseisoen sal na verwagting 120-miljoen-rand tot die plaaslike ekonomie bydra. Die 25 besoeke van passasierskepe, insluitend nege oornagverblywe, sal meer as 40-duisend passasiers na die stad bring. Lobishe en Yoyo sê die plesiervaartseisoen sal toerisme versterk, werkgeleenthede skep en die stad se lewendige kultuur en gasvryheid ten toon stel.
# Krieket: ‘n Meesterlike vertoning deur kaptein Laura Wolvaardt het die Proteas tot ‘n briljante totaal van 319 vir sewe geneem in hulle Wêreldbeker-halfeindstryd teen England in Guwahati, Indië. Dit is die tweede hoogste totaal in ‘n Wêreldbeker-uitklopwedstryd. Wolvaardt en Tazmin Brits het ‘n aanvangs-vennootskap van 101 lopies opgestapel voordat Brits vir 45 vertrek het, waarna nog twee paaltjies geval het voordat Marizanne Kapp 42 lopies bygevoeg het. Wolvaardt het ‘n reuse 169 van slegs 143 balle gemoker, terwyl Chloé Tryon ‘n onoorwonne 33 bygedra het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-10-sent teen die dollar, 19-rand-91-sent teen die euro en 22-rand-60-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 113-duisend-570-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-13-dollar-1-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-14-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….