Nuus 16:00
BULLETIN 29 Oktober 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die kroeguitsmyter wat aangekla is van ‘n dubbel-moord in Mamelodi-Oos laat vaar sy borgtog-aansoek
# Maxwell Wanda vertel Madlanga-kommissie ‘n gelaaide geweer is op Molefe se eiendom ontdek
# En Mercedes ly onder swak verkope in China en Amerikaanse tariewe
# Die kroeguitsmyter wat aangekla word van die moord op twee niggies in Mamelodi-Oos in Pretoria, Tebogo Mnisi, het sy borgtog-aansoek laat vaar in die plaaslike Landdroshof. Tshiyamo en Baleseng Moramaga is albei in die kop geskiet. Die 38-jarige Mnisi staan tereg op aanklag van moord met voorbedagte rade, poging tot moord en die besit van ‘n onwettige vuurwapen en ammunisie. Hy is gister in hegtenis geneem. Die hof het gehoor hy het geen vorige veroordelings of uitstaande sake teen hom nie. Die saak hervat op 19 Januarie.
# ‘n Voormalige lid van die politieke moorde-taakspan, Maxwell Wanda, het aan die Madlanga-kommissie gesê verskeie vuurwapens, insluitend ‘n gelaaide geweer, is by die sakeman Katiso “KT” Molefe se huis in Sandhurst, Johannesburg, gevind tydens sy inhegtenisneming in Desember. Molefe word aangekla van die moord op die ingenieur Armand Swart wie se onderneming korrupsie blootgelê het met ‘n Transnet-tender wat aan sy neef, Lucky Molefe, toegeken is. Wanda sê die Valke het kortliks ingemeng omdat hulle geglo het die operasie is vals:
# Die DA in Gauteng eis deursigtigheid van die Nasionale Gesondheidslaboratoriumdiens oor sy oënskynlike verbintenis om sy agterstand in toksikologie-sake teen die einde van die 2025/26-boekjaar te halveer. Die party sê dit sal die omkeertye vir toksikologieverslae in alle Forensiese Chemie-laboratoriums verbeter. Madeleine Hicklin van die DA sê dit volg op die DA se bevraagtekening van die aangemelde wagtyd van tien-jaar lykskouings-verslae:
Nuus uit die buiteland:
# Die Duitse motorvervaardiger, Mercedes-Benz het ‘n daling van 30,8-persent in netto wins aangekondig, weens swak verkope in China en Amerikaanse tariewe. Die maatskappy het in Julie sy vooruitsigte vir die jaar verlaag nadat die Amerikaanse president, Donald Trump, sy tariefaanslag begin het. Mercedes-Benz verwag dat inkomste vir 2025 aansienlik laer sal wees as die vorige jaar. Motoruitvoere uit die Europese Unie is onderhewig aan ‘n tarief van 15-persent ingevolge ‘n ooreenkoms tussen die EU en Amerika wat laat in Julie aangekondig is. Dit is laer as 27,5-persent, maar veel hoër as die 2,5-persent voordat Trump in April sy handelsoorlog begin het.
# Rugby: George Ford is bo Fin Smith verkies as losskakel in Engeland se opdraf-span vir Saterdag se toets teen Australië op Twickenham. Smith is op die bank en Marcus Smith is heeltemal weggelaat. Ford, ‘n veteraan van 102 toetse, behou die nommer 10-trui wat hy tydens die onlangse toer na Argentinië en Amerika gedra het. Fin Smith, wat die eerstekeuse-losskakel was tydens die Sesnasies, het die toer misgeloop terwyl hy vir die Britse en Ierse Leeus gespeel het in hulle reeksoorwinning van 2-1 oor Australië.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-12-sent teen die dollar, 19-rand-92-sent teen die euro en 22-rand-62-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 113-duisend-206-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-24-dollar-86-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-82-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….