Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 11 Junie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA se federale raad keur eenparig ‘n besluit goed vir regering-samestelling
# Die Stad Ekurhuleni herinner partye om verkiesingsplakkate teen môre te verwyder
# En ‘n wedloop om Roland Garros in ‘n Olimpiese tennis-stadion te omskep
# Die federale raad van die DA steun eenparig ‘n besluit vir sy leier, John Steenhuisen, en sy onderhandelingspan om regerings op nasionale en provinsiale vlak te vorm. Volgens News24 wil die resolusie die Grondwet handhaaf, bestendigheid verseker en ekonomiese groei bevorder. Die party se federale uitvoerende raad neem die finale besluite ten opsigte van koalisies en samestelling van die regerings. DA-woordvoerder, Solly Malatsi, sê die party sal met ander partye beraadslaag om bestendige regerings te vestig tot voordeel van alle landsburgers.
Ekurhuleni se Departement van Kommunikasie en Handelsmerkbestuur het politieke partye intussen herinner om hul verkiesingsplakkate teen môre te verwyder of die gevaar te loop om beboet te word. Die woordvoerder, Zweli Dlamini, sê volgens die verordening moet plakkate binne 14-dae ná die verkiesing verwyder word. Hy beklemtoon die stad sal alle oorblywende plakkate teen ‘n fooi verwyder. Hy sê die stad sal nie aanspreeklik wees vir enige eise met betrekking tot verwyderde verkiesingsmateriaal nie:
# Die minister van Justisie en Korrektiewe Dienste, Ronald Lamola, glo ‘n skietstilstand is die enigste oplossing om die deurgang van hulp na Gaza moontlik te maak. Lamola lei ‘n Suid-Afrikaanse afvaardiging na ‘n internasionale noodvergadering in Jordanië en het die noodsaaklikheid benadruk van volgehoue hulp aan en beskerming van burgerlikes en hulpwerkers. Hy het Amerikaanse pogings verwelkom asook die uitspraak deur die Internasionale Strafhof en het die noodsaaklikheid van volgehoue humanitêre hulp beklemtoon. Die konferensie sal die benarde humanitêre situasie in Gaza bespreek, asook moontlike vrede.
# Malawi is in rou nadat visepresident Saulos Chilima en nege ander mense in ‘n militêre vliegongeluk gesterf het. President Lazarus Chakwera het die nuus tydens ‘n nuuskonferensie bevestig nadat die wrakstukke van die vliegtuig in die Chikangawa-woud in Mzimba gevind is. Chilima en die ander was onderweg om die regering te verteenwoordig op die begrafnis van die voormalige kabinetsminister, Ralph Kasambara. Chakwera het sy medelye betuig met die gesinne en geliefdes van die slagoffers:
# Olimpiese Spele: Die wedloop het begin om die Roland Garros-tenniskompleks in ‘n Olimpiese stadion te omskep vir die Spele in Parys. Die organiseerders moet aan die streng standaarde van die Internasionale Olimpiese Komitee voldoen, met net ses weke van die einde van die Franse Ope en die begin van die tennistoernooi op die Spele. Die maatreëls sluit in om die bekende kentekens van die kompleks te verbloem en die Olimpiese ringe en die logo van die gasheerstad aan te bring. Die tennistoernooi begin op die 27ste van volgende maand.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-59-sent teen die dollar, 19-rand-94-sent teen die euro en 23-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-210-dollar-60-sent. Die prys van goud is twee-duisend-313-dollar-77-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-64-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….