Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 4 Junie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Openbare Beskermer bevind howe laat slagoffers van geslagsgeweld in die steek
# NotInMyName vra beskerming van die demokrasie in aanloop tot die sewende administrasie
# En, krieket: Rahul Dravid bly nie aan as Indië se afrigter na die T20-Wêreldbeker nie
# Die Openbare Beskermer het bevind die Departement van Justisie ondervind ‘n gebrek aan maatreëls om slagoffers van geslagsgeweld te beskerm. Kholeka Gcaleka sê die 38 howe wat ondersoek is, is ondoeltreffend bestuur, sonder behoorlike beskermingsbevele, met onopgeloste sake en ‘n toename in geslagsgeweld-voorvalle. Sy sê swak liasseerstelsels en taalhindernisse dra ook by tot swak dienslewering. Gcaleka vra beter bystand vir slagoffers wat beskermingsbevele aanvra:
Die burgerregte-organisasie, NotInMyName International, vra intussen vir die beskerming van die demokrasie in die sewende administrasie. Hulle is veral besorg oor die verwagte daling van vroulike verteenwoordigers in die Nasionale Vergadering, en versoek politieke partye om die beleid van geslagsverteenwoordiging te behou en voorkeur te gee aan die insluiting van veral swart vroue. ‘n Woordvoerder, Themba Masango, versoek die burgerlike gemeenskap om koalisiegesprekke te monitor om te verseker landsburgers se belange word nie geïgnoreer nie:
# ‘n Pasgebore baba wat vroeër vanjaar in ysige toestande in Londen gevind is, het twee sibbe wat ook in vorige jare in soortgelyke omstandighede gevind is. Die meisie, wat die hospitaalpersoneel Baba Elsa noem, was in ‘n handdoek toegedraai en in ‘n inkopiesak toe ‘n hondestapper haar in Januarie gevind het. DNS-toetse het sedertdien gewys sy het ‘n broer en suster, bekend as Baba Harry en Baba Roman, wat in 2017 en 2019 in dieselfde gebied gevind is. Die Londense Metropolisie probeer nou om die identiteit van die ouers vas te stel.
# Krieket: Rahul Dravid het bekendgemaak hy tree na die huidige T20-Wêreldbekertoernooi uit as hoofafrigter van Indië. Die voormalige internasionale kolwer gaan nie weer aansoek doen vir die pos wat die beheerliggaam verlede maand geadverteer het nie. Die 51-jarige Dravid het Indië verlede jaar tot die eindstryd van die Wêreld-toetskampioenskap en van die eendag-Wêreldbekertoernooi gevoer, wat hulle albei teen Australië verloor het. Sy land het sedert 2013 nog geen internasionale toernooi gewen nie. Indië se T20 Wêreldbeker-veldtog begin môre teen Ierland.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-66-sent teen die dollar, 20-rand-27-sent teen die euro en 23-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-258-dollar-8-sent. Die prys van goud is twee-duisend-336-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-6-sent per vat.
# Ten slotte: Die stigtersdirekteur van die Sentrum vir die Studie van die Nadraai van Geweld en die Strewe na Herstel aan die Universiteit Stellenbosch, Pumla Gobodo-Madikizela, is bekroon met die gesogte Templeton-prys. Dit gee erkenning aan haar bydraes tot studies oor vergifnis en die herstel van trauma ná geweld. Gobodo-Madikizela sê die prys sal nuwe navorsingsprojekte, nagraadse studente en na-doktorale genote help, te midde van verminderde befondsing. Sy beplan om agt-miljoen-rand aan die Universiteit Stellenbosch te skenk. Sy het ook in 2020 die toekenning as Harry Oppenheimer-genoot ontvang het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….