Nuus 16:00
BULLETIN 25 November 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Misdaadkenner sê Matlala se getuienis sal na verwagting plofbaar wees
# Stad Kaapstad is bekommerd oor dwelms wat steeds die strate invloei
# En SA Rugby loof ses Bokke se aanwysing in Wêreldrugby se Droomspan
# ‘n Misdaadkenner sê Vusimuzi ‘Cat’ Matlala se getuienis môre voor die Parlement se ad hoc-komitee in die Kgoši Mampuru-gevangenis in Pretoria, kan vorige bewerings bevestig en nuwe inligting oor onreëlmatige polisie-bedrywighede onthul. Chad Thomas van die Interne Inkomstediens se Forensiese Ondersoeke sê aan SABC News Matlala kan ander betrek om homself te red deur besonderhede van sindikate en lede van Ekurhuleni se Metropolisiedepartement te onthul. Thomas beklemtoon Matlala se getuienis kan die volle omvang van misdadige netwerke blootlê:
Calvin and Family Security Services het intussen ‘n laster-eis van 100-miljoen-rand teen die voormalige adjunkhoof van Ekurhuleni se Metropolisiedepartement, Revo Spies, ingestel oor bewerings wat hy voor die Madlanga-kommissie gemaak het. Spies beweer dat die maatskappy se voertuie onwettig met blou ligte toegerus is. CFS Services voer aan die bewerings is vals en gegrond op skinderstories van Spies se voormalige kollegas. ‘n Direkteur, Calvin Mathibeli, beweer Spies se getuienis is lasterlik en veroorsaak skade aan hul sakebedrywighede.
# Die Stad Kaapstad sê dwelms vloei steeds die strate in en baie van die onlangse suksesse behels die beslaglegging op groot hoeveelhede. Wetstoepassingsagentskappe het verlede week 348 verdagtes in hegtenis geneem en beslag gelê op ‘n plastieksak met 54,46 gram tik en 603 heel Mandrax-tablette in die Strand. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith, sê met uitgebreide wetstoepassings-agentskappe kan hulle begin om die sindikate wat hierdie handelaars voorsien, te keer:
# Die Vereniging van Staatsamptenare sluit aan by Suid-Afrika en die wêreldgemeenskap om die 16 Dae van Aktivisme vir Geen Geweld teen Vroue en Kinders van vandag tot 10 Desember te vier. Claude Naicker van die vakbond beklemtoon voorkoming en doen ‘n beroep vir sterker wetstoepassing, veiliger werkplekke en aanspreeklikheid vir oortreders. Hy dring daarop aan dat die samelewing skadelike norme moet beveg, etiese standaarde handhaaf en jaarlikse optredes handhaaf om vroue en kinders teen geslagsgeweld en mishandeling te beskerm:
# SA Rugby het Wêreldrugby se Mans 15’s Speler van die Jaar, Malcolm Marx, en sy mede-benoemdes, Pieter-Steph du Toit en Ox Nché, gelukgewens, sowel as drie ander spelers wat in Wêreldrugby se Mans 15’s Droomspan vir vanjaar aangewys is. Hulle is Thomas du Toit, Sacha Feinberg-Mngomezulu en Cheslin Kolbe. Al ses spelers het dié seisoen uitstaande internasionale vertonings gelewer, met die Springbokke wat tot dusver 11 uit 13 toetse gewen het. Hul laaste wedstryd van die jaar is Saterdag teen Wallis op die Principality-stadion in Cardiff.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-24-sent teen die dollar, 19-rand-88-sent teen die euro en 22-rand-62-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-540-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-138-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 62-dollar-41-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….