Nuus 15:00
BULLETIN 25 November 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# CFS Services stel ‘n lastereis van 100-miljoen-rand in teen ‘n getuie voor die Madlanga-kommissie
# Binnelandse Sake stel die Burgerskaps-herstelportaal bekend
# En krieket: Shamsi onttrek aan MI Cape Town se span vir die SA20
# Calvin and Family Security Services het ‘n laster-eis van 100-miljoen-rand teen die voormalige adjunkhoof van Ekurhuleni se Metropolisiedepartement, Revo Spies, ingestel oor bewerings wat hy voor die Madlanga-kommissie gemaak het. Spies het beweer dat die maatskappy se voertuie onwettig met blou ligte toegerus is. CFS Services voer aan die bewerings is vals en gegrond op skinderstories van Spies se voormalige kollegas. ‘n Direkteur, Calvin Mathibeli, beweer Spies se getuienis is lasterlik en veroorsaak skade aan hul sakebedrywighede.
Die EFF-leier, Julius Malema, verwerp intussen die ANC se voorstel dat die geskorste hoof van die Ekurhuleni-metropolisiedepartement, Julius Mkhwanazi, ‘n geskrewe verklaring indien en nie voor die parlementêre ad hoc-komitee verskyn nie. Mkhwanazi is voor die Madlanga-kommissie beskuldig dat hy ʼn sogenaamde geheime eenheid bedryf het wat betrek word by ernstige misdade, wat moord insluit. Malema sê Mkhwanazi moet voor die kommissie verskyn en antwoorde verskaf:
# Die DA verwelkom die Departement van Binnelandse Sake se bekendstelling van die Burgerskaps-herstelportaal. Die Konstitusionele Hof het in Mei dele van Artikel 6 van die Wet op Suid-Afrikaanse Burgerskap ongrondwetlik verklaar. Die portaal sal Suid-Afrikaners, veral diegene wat in die buiteland woon, help om hul status na te gaan en, waar nodig, enige oorblywende stappe te voltooi vir die departement om hul burgerskap administratief te verwerk. Ludré Stevens van die DA sê die portaal wys die potensiaal van digitale hervorming:
# Die Wes-Kaapse LUR vir Onderwys, David Maynier, sê die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen verloop vlot en geen ernstige voorvalle is aangemeld nie. Die laaste vakke wat môre geskryf word, is Landboubestuurspraktyke, Marienewetenskap en Musiekbegrip. Maynier sê vier-duisend-190 nasieners by 12 sentrums sal meer as 954-duisend eksamenvraestelle nasien:
# Krieket: Die Protea-bouler Tabraiz Shamsi het hom om persoonlike redes aan die SA20 onttrek, en die veelsydige speler Thomas Kaber sal hom by MI Cape Town vervang. Die verdedigende kampioen het Shamsi in September op die spelersveiling vir ‘n halfmiljoen-rand opgeraap. Dit sou sy eerste seisoen by die Kaapstadse span wees nadat hy in die eerste twee seisoene vir Paarl Royals gespeel het, en daarna vir Joburg Super Kings. Kaber keer terug na die franchise wat hy in die vorige twee seisoene in altesaam nege wedstryde verteenwoordig het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-24-sent teen die dollar, 19-rand-89-sent teen die euro en 22-rand-62-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-420-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-133-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 62-dollar-54-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….