Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 7 Junie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA vereis ‘n regeringsooreenkoms volgens die Grondwet in gesprekke met die ANC
# Thuli Madonsela prys die voorstel van ‘n regering van nasionale eenheid
# En, rugby: Warrick Gelant is terug vir die Stormers, maar Evan Roos is uit
# Die DA sê hy is gereed om volgens sleutelbeginsels met die ANC te onderhandel, soos die beskerming van die Grondwet, die vestiging van ‘n doeltreffende Staatsdiens en die afwenteling van magte na die provinsies. Volgens News24 steun die party Operasie Vulindela en sy voorkeure, soos die ontbondeling van Eskom. Die DA is egter onversetlik oor die onafhanklikheid van die Suid-Afrikaanse Reserwebank en is gekant teen kaderontplooiing, wat dalk met die standpunt van die ANC kan bots. Die DA ondersteun ‘n bedryfsmodel vir ‘n veelparty-regering met ‘n meganisme vir geskilbeslegting.
Die voormalige Openbare Beskermer, Thuli Madonsela, prys intussen president Cyril Ramaphosa en die ANC vir die voorstel van ‘n regering van nasionale eenheid om inklusiwiteit in Suid-Afrika se demokrasie te koester. Sy sê die regering van nasionale eenheid kan uiteenlopende perspektiewe versoen en elke individu se potensiaal ontsluit. Madonsela het teruggekyk op 30-jaar van demokrasie, en moedig landsburgers aan om wyse besluite te neem om ‘n transformerende gemeenskap te vorm gegrond op demokratiese waardes, maatskaplike geregtigheid en fundamentele menseregte.
# Die Departement van Onderwys in KwaZulu-Natal het bevestig sowat 20 skole is deur die onlangse tornado beskadig. Volgens die departement se woordvoerder, Muzi Mahlambi, is planne gereed om leerders wat geraak is, op te spoor na die ontwrigting van die halfjaar-eksamen. Intussen verleen organisasies sonder winsoogmerk en noodspanne bystand om die beskadigde infrastruktuur te herstel. Mahlambi sê die koste van die skade moet nog bepaal word:
# Die minister van Polisie, Bheki Cele, en die nasionale kommissaris, Fannie Masemola, het meer as 130 voertuie aan die Misdaad-rekordsentrum-eenhede by die Polisie Akademie in Tshwane oorhandig. Hierdie eenhede koppel verdagtes aan misdaadtonele deur die insameling van bewyse en ontleding. Cele sê die voertuie sal bedrywighede verbeter, insluitend reaksietye op misdaadtonele. Cele het weens die hoë misdaadvlakke ‘n beroep op die eenhede gedoen om misdaad te voorkom, te bekamp en te ondersoek en die wet te handhaaf:
# Rugby: Warrick Gelant is terug op heelagter vir die Stormers in môre se Verenigde Rugbykampioenskaps-kwarteindstryd teen Glasgow Warriors. Sacha Feinberg-Mngomezulu skuif na binnesenter en Ben Loader begin op linkervleuel in die opdrafspan. Onder die voorspelers is Evan Roos weggelaat weens harsingskudding wat hy tydens oefening opgedoen het. Hy word op oopkantflank vervang deur Willie Engelbrecht. Die splinternuwe voorry is Brok Harris, Joseph Dweba en Frans Malherbe. Afskop is môreaand 8.35.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-89-sent teen die dollar, 20-rand-58-sent teen die euro en 24-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-345-dollar-70-sent. Die prys van goud is twee-duisend-333-dollar-12-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 80-dollar-22-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….