Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 7 Junie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA vereis ‘n regeringsooreenkoms volgens die Grondwet in gesprekke met die ANC
# Die ACDP is nie deel van ‘n groep wat die verkiesingsuitslag betwis nie
# En, rugby: Adré Smith bly tot in 2027 by die Stormers
# Die DA sê hy is gereed om volgens sleutelbeginsels met die ANC te onderhandel, soos die beskerming van die Grondwet, die vestiging van ‘n doeltreffende Staatsdiens en die afwenteling van magte na die provinsies. Volgens News24 steun die party Operasie Vulindela en sy voorkeure, soos die ontbondeling van Eskom. Die DA is egter onversetlik oor die onafhanklikheid van die Suid-Afrikaanse Reserwebank en is gekant teen kaderontplooiing, wat dalk met die standpunt van die ANC kan bots. Die DA ondersteun ‘n bedryfsmodel vir ‘n veelparty-regering met ‘n meganisme vir geskilbeslegting.
Die ACDP het hom intussen gedistansieer van die groep politieke partye wat die uitslag van die verkiesing betwis. Sommige partye het die Verkiesingskommissie van onreëlmatighede en stem-bedrog beskuldig. Raymond Tlaeli van die ACDP sê hulle het ‘n bekwame onafhanklike verkiesingsontleder aangestel om hulle besware aan die OVK voor te lê:
# Die Inligtingsreguleerder van Suid-Afrika het gewaarsku die Discovery-sekerheidsbreuk kan ‘n boete of tronkstraf tot gevolg hê. Die versekeraar het aangekondig dat kliënte reeds ingelig is nadat sekere kliënte-inligting uitgelek het. ‘n Nabootser het met behulp van derdeparty-oortredings toegang tot persoonlike inligting verkry, wat tot 19 gevalle gelei het waar beleidsinligting uitgelek het. Collen Weapond van die reguleerder vra vir die verbetering van veiligheidsmaatreëls:
# Ierse kiesers het vandag begin stem op die tweede dag van die Europese Unie se marathon-verkiesing nadat Nederland gister gestem het, met die verregses wat sterk vertoon. Die 37-jarige eerste minister van Ierland, Simon Harris, het naby sy huis suid van Dublin gaan stem voor ‘n warrelwindtoer om stemme vir die plaaslike verkiesing asook vir die Europese Parlement te werf. Dis die eerste keer in ‘n Ierse EU-verkiesing dat baie kandidate ‘n anti-immigrasie-beleid steun, hetsy as onafhanklikes of namens nasionalistiese randpartye, Die meeste van die 27 EU-lande stem Sondag.
# Rugby: Die slot Adré Smith is die jongste speler wat ‘n nuwe ooreenkoms met die Stormers onderteken het. Die 27-jarige, wat in 2021 by die Kaapse span aangesluit het, het sy kontrak tot 2027 verleng. Smith sê sy spel het ʼn volgende vlak bereik sedert hy van die Griekwas na die Stormers verskuif het. Die direkteur van rugby, John Dobson, sê hy sien uit om Smith se ontwikkeling oor die volgende drie seisoene dop te hou. Ander spelers wat onlangs hulle kontrakte verleng het, sluit in Manie Libbok en Suleiman Hartzenberg.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-86-sent teen die dollar, 20-rand-54-sent teen die euro en 24-rand-13-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-336-dollar-52-sent. Die prys van goud is twee-duisend-336-dollar-93-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-94-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….