Nuus 13:00
BULLETIN 14 Junie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Jacob Zuma doen ’n beroep sy ondersteuners om volgende naweek te registreer om te stem
# Die Malawiese repatriasie vanaf Durban word tydelik gestaak
# En padwedlope: George Kusche wen die Comrades-marathon
# Die president van die MK-party, Jacob Zuma, het swart Suid-Afrikaners aangespoor om die naweek te registreer om te stem voor die plaaslikeregeringsverkiesing op 4 November. Zuma het met ondersteuners by die Delft-Suid-gemeenskapsaal in Kaapstad gepraat en stemgeregtigde kiesers versoek om hul stemkrag te gebruik om voortslepende sosio-ekonomiese uitdagings aan te spreek en grond terug te eis. Zuma het beklemtoon dat burgers steeds vasgevang is deur werkloosheid, ongelykheid en beperkte toegang tot geleenthede. Hy sê betekenisvolle verandering kan slegs deur die stembus kom.
# Die hoofsekretaris van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party, Solly Mapaila, sê terwyl die party sy onafhanklike verkiesingspad uitstippel, staar hy kritieke uitdagings in die gesig voor die plaaslikeregeringsverkiesing. Mapaila het tydens hul Limpopo-verkiesingskongres gesê die organisasie is groter as enige verkiesingswedloop. Hy het lede gevra om interne verdeeldheid te vermy, gedissiplineerd te bly en die belange van gemeenskappe voor persoonlike ambisies te stel, aangesien Suid-Afrikaners eerlike leierskap soek:
# Die provinsiale voorsitter van ActionSA in Mpumalanga, Thoko Mashiane, het die begroting van 2,37-miljard rand verwelkom wat vir die 2026/27-boekjaar aan die Departement van Samewerkende Regering, Menslike Nedersettings en Tradisionele Sake toegewys is. Mashiane sê die begroting moet tasbare resultate lewer ongeag kommer oor minder geld vir behuisingstoelae en besnoeiings aan kapitaaluitgawes. Sy het ook verwys na die voortgesette oponthoud met behuisingsprojekte en die asbes-uitskakelingsprogram en gevra vir beter toesig en verantwoordbaarheid:
# Die vrywillige repatriasie van Malawiese burgers vanaf Durban is tydelik opgeskort weens teenstrydighede in passasierslyste. Suid-Afrikaanse amptenare van Binnelandse Sake en Malawiese immigrasie-owerhede het ontdek dat verskeie name hehaal is, wat daartoe gelei het dat sommige individue aan meer as een bus toegeken is. Amptenare het die operasie onderbreek terwyl rekords nagegaan word. Die burgemeester van eThekwini, Cyril Xaba, sê owerhede werk daaraan om die logistieke uitdagings op te los om soomlose repatriasie te verseker:
# En ten slotte sportnuus:
# Padwedlope: George Kusche het die 2026 Comrades-marathon gewen deur die opdraende roete van Durban na Pietermaritzburg in ‘n rekordtyd van 5 uur, 15 minute en 56 sekondes in te palm. Kusche het ‘n perfekte wedloop gehardloop en die voorloper, Mbuti Mollo, op die uitdagende Polly Shorts verbygesteek met net meer as tien kilometer oor. Die verdedigende kampioen Piet Wiersma het tweede geëindig, terwyl Mollo derde gekom het. Gerda Steyn het die vrouewedloop gewen en haar vyfde algehele titel en vierde agtereenvolgende oorwinning behaal.
# En tennis: Vooraanstaande tennisspelers het die 20-persent-verhoging in die Wimbledon-prysgeld verwelkom as ‘n opregte en beduidende stap vorentoe. Die totale prysgeld by vanjaar se kampioenskappe sal 64,2-miljoen-Britsepond wees, of gelykstaande aan ongeveer 1,4-miljard-rand. Die enkelspelkampioene sal elk 3,6-miljoen-pond huis toe neem, met eerste-ronde verloorders wat 80-duisend-pond betaal sal word. Meer as ses-miljoen-pond is opsy gesit vir die kwalifiserende kompetisie. Dis ‘n styging van 25-persent. Spelers sê vir ‘n geruime tyd dat hulle ‘n beduidende rol in die sukses van toernooie speel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….